|
Bloemfontein is die hoofstad van die Suid-Afrikaanse Vrystaatprovinsie en die land se sesde grootste stad. Dit is sedert 1910 (as die geregtelike hoofstad) een van die drie hoofstede van die Republiek van Suid-Afrika. Die ander twee hoofstede is Kaapstad (die wetgewende hoofstad) en Pretoria (die uitvoerende hoofstad). Suid-Afrika se hoogste hof, die Konstitusionele Hof, is egter sedert 1994 in Johannesburg gesetel. Bloemfontein staan informeel as Bloem bekend en word in Suid-Sotho Mangaung ("plek van die jagluiperde") genoem en deur die Griekwas ǀʼAuxa ǃXās. Die stad beslaan 'n oppervlakte van 236 vierkante kilometer en het in 2021 'n bevolking van sowat 528 000. Die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit, waarvan dit deel is, het 'n bevolking van 747 431. Bloemfontein lê op 'n hoogte van 1 395 m bo seevlak.Sedert 2023 dien Gregory Nthatisi van die African National Congress (ANC) as uitvoerende burgemeester van Bloemfontein en omstreke.
Bloemfontein lê in die hart van die Vrystaat se sentrale plato en is een van die min stede met 'n wildtuin in sy sentrum, bo-op Naval Hill. Bloemfontein staan nog steeds vir sy blommeprag en die voormalige Rosefees bekend en het die bynaam Rosestad. Die stad is geleë in die middel van die land, waarvolgens dit ook "Sentraal-Suid-Afrika" genoem word.
Die stad het sy oorsprong in 'n Britse fort en nedersetting wat in 1846 deur majoor Henry Douglas Warden in die destydse Transoranje-streek gevestig is. Dit het vervolgens as administratiewe setel van die Britse kolonie Oranjerivier-soewereiniteit (1848–1854) en die onafhanklike Boererepubliek Oranje-Vrystaat gedien wat in 1854 gestig is. Tussen Mei en Junie 1899 is die historiese Bloemfontein-konferensie hier gehou as 'n laaste vergeefse poging om 'n militêre konflik tussen die destydse Boererepublieke en die Britse Ryk te vermy. In die 20ste eeu het Bloemfontein tot die geografiese spilpunt van Suid-Afrika se spoorwegnetwerk ontwikkel. Sowat 160 km noordoos van Bloemfontein het 'n groot ekonomiese opswaai van 1948 af met die ontginning van die Vrystaatse Goudveld begin. Later, van 1962 af, het die gebied sentraal gestaan in die verwesenliking van die Oranjerivierprojek met sy waterkragsentrales en besproeiingskemas.
Vandag is Bloemfontein 'n moderne stad met wolkekrabbers, winkelsentrums en restaurante; en die Sand du Plessis-teater as een van sy kenmerkendste argitektoniese besienswaardighede. Tegelykertyd het Bloemfontein sy kulturele erfenis bewaar en die stad spog met pragtige historiese geboue soos die Raadsaal, een van die mooistes in Suid-Afrika. In die stad is die Hoogste Hof van Appèl, Franklin-wildreservaat, Naval Hill, Maselspoort-ontspanningsoord en die Sand du Plessis-teaterkompleks geleë. Die stad beskik ook oor 'n aantal museums, waaronder die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum, die Nasionale Vrouemonument, die Anglo-Boereoorlogmuseum, die Nasionale Museum en die Oliewenhuis Kunsmuseum. Bloemfontein spog ook met die eerste digitale planetarium in die Suidelike Halfrond, die Lamont-Hussey- en die Boydensterrewag.
- ...lees verder
|
Krieket is ’n boul-en-kolf-, asook spansport wat gespeel word tussen twee spanne met elf spelers elk op ’n krieketveld met ’n 22-jaart-kolfblad (20 meter) in die middel met paaltjies aan weerskante wat bestaan uit twee dwarsbalkies op drie houtpenne. Twee spelers van die kolfspan, die aktiewe en onaktiewe kolwer, staan elk met ’n kolf in hulle hande voor elke paaltjie, terwyl ’n speler van die veldwerkspan, die bouler, die bal van die teenoorliggende kant van die kolfblad na die aktiewe kolwer se paaltjies boul. Die aktiewe kolwer probeer die geboulde bal met sy kolf slaan en ruil dan sy plek met die onaktiewe kolwer om, waarby die kolfspan met elkeen van dié bewegings ’n lopie aanteken. Lopies word ook aangeteken wanneer die bal die veldgrens raak of wanneer die bal onwettig geboul word.
Die veldwerkerspan probeer lopies voorkom deur die kolwers uit te skakel (hulle is “uit”, hulle het hul paaltjies verloor). ’n Uitskakeling kan op verskeie maniere behaal word, waaronder uitgeboul, wanneer ’n geboulde bal ’n paaltjie tref en die dwarsbalkies afval, wanneer die veldwerkspan ’n geslane bal vang voordat dit die grond raak, of om die paaltjies met ’n bal te tref voordat ’n kolwer sy kolfkampie voor die paaltjies bereik het om ’n lopie aan te teken. Sodra tien kolwers uitgehaal is, eindig die kolfbeurt en die spanne verander van rolle. Tradisioneel speel krieketspelers in ’n volledige wit uitrusting, maar in korter formate dra hulle klub- of spankleure. Bykomend tot die gewone uitrusting dra sommige spelers beskermende uitrusting om moontlike beserings te verhoed deur die bal, ’n harde, soliede sferoïed, gemaak van saamgeperste leer met ’n effens verhewe toegewerkte naat uit ’n styf gewikkelde tou wat ’n kurkkern omsluit. Die wedstryd word deur twee skeidsregters beheer, ondersteun deur ’n derde skeidsregter en ’n wedstrydbeampte in internasionale wedstryde. Krieketformate sluit in tradisionele toetswedstryde wat oor vyf dae gespeel word, internasionale eendagwedstryde (EDI) oor 50 boulbeurte oftewel een dag, tot Twintig20 (T20), met elke span wat vir 20 boulbeurte kolf (elke boulbeurt bestaan uit ses wettiglik geboulde balle wat die kolfspan die geleentheid bied om lopies aan te teken) en ’n wedstryd wat gewoonlik drie uur neem.
Die vroegste bekende verwysing na krieket dateer uit die middel-16de eeu in Suidoos-Engeland. Dit het met die uitbreiding van die Britse Ryk wêreldwyd versprei, met die eerste internasionale wedstryde wat in die tweede helfte van die 19de eeu gespeel is. Die sport se beheerliggaam is die Internasionale Krieketraad (IKR), wat in 1909 gestig is en nou meer as ’n 100 lede het, waarvan twaalf volle lede toetswedstryde mag speel. Die speelreëls, die krieketwette, word deur die Marylebone-krieketklub (MKK) in Londen behartig. Die sport is veral in Suid-Asië, Australasië, die Verenigde Koninkryk, Suider-Afrika en Wes-Indië gewild. Krieketwêreldbekertoernooie is van die gewildste sportkompetisies wêreldwyd en word in die EDI-vorm gespeel, maar ook T20I-wêreldbekertoernooie en Kampioenetrofeë geniet ’n groot ondersteuning. Hoewel krieket in die verlede veral deur mans beoefen is, het vrouekrieket in die 21ste eeu aansienlik gegroei met beide Vrouekrieketwêreldbeker- en T20I-vrouewêreldbekertoernooie wat nou ook groot skare lok.
- ...lees verder
|