Vlag van Bulgarye
| Gebruik | Burgerlike- en Staatsvlag en Burgerlike vaandel |
|---|---|
| Verhouding | 3:5 |
| Goedgekeur | 27 November 1990[1] |
| Ontwerp | ’n Ewe breë horisontale driekleur in wit, groen en rooi. |
| Ontwerp deur | Stiliana Parasjkewowa (oorspronklike ontwerp) |
| Gebruik | Burgerlike- en Staatsvlag en Burgerlike vaandel |
| Verhouding | 3:5 |
| Ontwerp | ’n Ewe breë horisontale driekleur in wit, groen en rooi. |
| Bynaam | Oorlogsvlag |
| Gebruik | Oorlogsvlag |
| Verhouding | 2:3 |
| Goedgekeur | 1991 |
| Gebruik | Vlootvaandel |
| Verhouding | 6:9 |
| Goedgekeur | 1991 |
| Gebruik | Burgerlike vaandel |
| Verhouding | 2:3 |
| Goedgekeur | 1991 |
Die nasionale vlag van Bulgarye (Bulgaars: Национално знаме на България, Natsionalno zname na Balgarija) is op 27 November 1990 amptelik in gebruik geneem. Die vlag vertoon ’n ewe breë horisontale driekleur in wit, groen en rooi. Die kleure verteenwoordig vryheid en vrede (wit), Bulgarye se vrugbaarheid en natuur (groen) en die bloed wat vir die land se vryheid vergiet is (rooi). Die vlag is aanvanklik aanvaar ná die Russies-Turkse Oorlog toe Bulgarye onafhanklikheid van die Ottomaanse Ryk verkry het. Die nasionale vlag en embleem is telkemale verander, veral gedurende die kommunistiese era, toe die wapen telkens verander is. Die huidige vlag is in 1990 hervestig met die grondwet van Bulgarye en in 1998 deur ’n wet bekragtig.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Eerste Bulgaarse Ryk
[wysig | wysig bron]In 866 het Pous Nicolaas I prins Boris I van Bulgarye, wat sy volk kort tevore gekersten het, geadviseer om weg te beweeg van die gebruik van ’n perdestert (tugh) as banier en om die Heilige Kruis in plaas daarvan te gebruik.[2]
Latere weergawes van die kronieke van Johannes Skylitzes en Konstantin Manasses het die leër van die Khan Kroem uitgebeeld as dat hulle vlae in rooi[3] of met ’n swart fraiing gebruik.[4] Die leër van Simeon I van Bulgarye word ook uitgebeeld met die gebruik van rooi baniere in verskillende vorme.[4] Die kroniek van Radziwiłł (Königsberg) beeld ook Tsaar Simeon I se leër uit onder ’n rooi vlag in hul veldtog teen Bisantium in 921–922, maar die uitbeelding van die Hongaarse inval van 894 toon die Bulgaarse vesting Drastar onder ’n wit vlag met ’n sekelmaan en sespuntige ster. Enige geïllustreerde weergawes van vlae in bogenoemde manuskripte, ongeag die faksie of die tyd wat aangedui word, stem sterk ooreen met die algehele styl van illustrasies wat in elke manuskrip gebruik is. Voorts dateer geen van die manuskripte uit die tyd van die Eerste Bulgaarse Ryk nie. Die historisiteit van daardie vlae is dus onmoontlik om te bevestig.
Tweede Bulgaarse Ryk
[wysig | wysig bron]

Voorstellings van Bulgaarse vlae kan op verskeie portolane uit die 14de en 15de eeu gesien word. Op sulke kaarte het die vlae gewoonlik ’n wit of goue[5] agtergrond en beeld dit óf die insinje van die regerende Huis van Sjisjman[6] óf onbekende simbole[7] in rooi uit. Daardie sketse is aanmerklik meer divers as die vlae van die buurlande soos die Oos-Romeinse Ryk, die Goue Horde of die Keiserryk Serwië, wat in dieselfde kaarte oorwegend eenders is.
Ottomaanse Bulgarye
[wysig | wysig bron]Van die 14de tot die 19de eeu, tydens die Ottomaanse bewind, het rowers (“haidoeke”) en militêre bevelvoerders (“woiwodes”) van Ottomaanse Bulgarye gereeld groen vlae gehys, versier met ’n goue leeu wat met verskeie inskripsies soos “Vryheid of Dood” uitgebeeld is.
Moderne Bulgaarse state
[wysig | wysig bron]Die eerste vlag wat die kleure groen, wit en rooi in ’n horisontale rangskikking gebruik het, is tussen 1861 en 1862 deur die twee Bulgaarse legioene onder Georgi Rakowski in Belgrado gebruik. Later het Filip Totju se gewapende bende, die “cheta”, ’n vlag met die drie kleure rooi, wit en groen gebruik. Die groen, wit en rooi driekleur was ook die vlag van die Bulgaarse Rewolusionêre Sentrale Komitee in Boekarest. Rakowski se rangskikking is waarskynlik beïnvloed deur sy vriend, Dimitar Tsenowic, wie se dogter, Ljubisa, die komitee se twee vlae genaai het. Dieselfde vlag is deur die Russies-Bulgaarse Vrywilligerskorps tydens die Serwo-Turkse Oorlog in 1876 gebruik. Die vlag van die Trojan-plaaslike komitee binne die Rewolusionêre Interne Organisasie van 1875 was egter rooi, groen en wit.
In 1877 het die “Deugsame Bataljon” (Добродетелна дружина) in Walachye die naai van vlae vir elkeen van die bataljons van die Bulgaarse burgermag beveel met ’n horisontale rangskikking van wit, groen en rooi soortgelyk aan vandag se vlag. Hierdie vlae is egter nie in gevegte gebruik nie, aangesien hulle nie deur die Russiese owerhede aan die burgermag oorhandig is nie, maar wel in die Bulgaarse Zemstwo-leër wat in 1878 gestig is.[8] Terselfdertyd is die Samara-vlag, die hoofvlag van die Bulgaarse Vrywilligers, in die oorlog gebruik; dit is deur die stad Samara geskenk en toon die drie Pan-Slawiese kleure rooi, wit en blou.
Onder die vroegste vlae met die drie huidige Bulgaarse kleure was dié van die Stara Zagora-opstand in September 1875 en die Wratsa-komitee in 1876. Die vlag wat deur Stiliana Parasjkewowa, die dogter van Iwan Paraskewof, ontwerp is, het die keuse van die Bulgaarse nasionale vlag aansienlik beïnvloed. In die Roemeense stad Brăila is dit aan Bulgaarse vrywilligers oorhandig wat in die Russies-Turkse Oorlog geveg het – die tweede bekende vrywilligersvlag ná die Samara-vlag.[9] Dié ontwerp toon ’n vierkant versier met ’n leeu en die opskrif БЪЛГАРИЯ (“Bulgarye”) in die middel. Op 8 Mei is dit in Ploiești aan Groothertog Nikolai Nikolaewitsj oorhandig vir die Bulgaarse vrywilligers wat in die Russies-Turkse Oorlog geveg het. Die vlag is nie deur die Groothertog of die Russiese owerhede aan die Bulgaarse vrywilligers oorhandig nie en is nie in die oorlog gebruik nie. Dit is egter op 30 Augustus 1878 tydens ’n militêre parade in Plowdif ter geleentheid van die naamdag van die Russiese tsaar Aleksander II gehys. Die vlag was teenwoordig in die saal van die Konstituerende Vergadering in Weliko Tarnowo toe daar oor die Tarnowo-grondwet gestem is. Hierdie vlag is nou deel van die versameling vlae by die Nasionale Museum van Militêre Geskiedenis in Sofia.[10]
Ná die vir die Ottomaanse Ryk rampspoedige verloop van die Russies-Turkse Oorlog het die Russiese Ryk die Vrede van San Stefano opgelê, waarmee die Ottomaanse Bulgarye ’n outonome Prinsdom geword het. Bulgarye het daarna vir ’n kort tyd ’n wit-blou-rooi-vlag na die voorbeeld van die vlag van Rusland gebruik. Die blou baan is kort ná onafhanklikwording in 1878 vervang met ’n groen baan wat landbou verteenwoordig.
Die veral deur Bulgare bewoonde Oos-Roemelië het met die ondertekening van die Verdrag van Berlyn in 1878 (wat die nuutgestigte Bulgarye aansienlik verklein het) ’n outonome provinsie binne die Ottomaanse Ryk geword. In 1885 is die Prins van Bulgarye ná ’n rewolusie tot goewerneur van Oos-Roemelië benoem, terwyl dié gebied amptelik onder Ottomaanse beheer gebly het. Oos-Roemelië het ’n rooi-wit-blou vlag gebruik (die Pan-Slawiese kleure) wat identies was aan die Nederlandse vlag. Op 6 September 1908 is Bulgarye en Oos-Roemelië in ’n onafhanklike koninkryk verenig.
In die Tarnowo-grondwet van 1879 is die vlag soos volg beskryf:
| Art. 23. Die vlag van die Bulgaarse volk is driekleurig en bestaan uit wit, groen en rooi kleure wat horisontaal geplaas is.[11] |
Ná die stigting van die Volksrepubliek Bulgarye in 1946 is met die nuwe Dimitrof-grondwet van 1947 die vlag verander: die kleure en hul rangskikking het onveranderd gebly, maar die nuwe nasionale wapen is in die skildhoek geplaas (slegs in die wit baan). Die nuwe wapen het ’n leeu in ’n koringkrans onder ’n rooi ster en bo ’n lint waarop die datum 9.IХ.1944 (9 September 1944), die dag van die Bulgaarse staatsgreep van 1944 waartydens die monargie afgeskaf en wat gelei het tot die totstandkoming van die Bulgaarse Volksrepubliek, vertoon. In 1971 is die wapen (en daarmee die vlag) effens verander met die lint wat in twee gedeel is om die jare 681 (die jaar waarin die Eerste Bulgaarse Ryk deur Asparoech gestig is) en 1944 daarop te vertoon.
Ná die val van kommunisme in 1990 is die sogenaamde Zjifkof-grondwet gewysig sodat die vlag van voor die kommunistiese tyd weer ingestel kon word.[12] Die nuwe Bulgaarse grondwet wat in 1991 aanvaar is, beskryf die vlag soos volg:
| Art. 166. Die vlag van die Republiek Bulgarye sal ’n driekleur wees: wit, groen en rooi van bo af, horisontaal geplaas.[13] |
’n Gewilde weergawe van die vlag wat geen amptelike status geniet nie, is ook algemeen bekend. Daarop is die volle wapenskild in die vlag se skildhoek oor die wit en groen bane.[14][15][16][17]
Vorige vlae
[wysig | wysig bron]Tweede Bulgaarse Ryk
[wysig | wysig bron]- Vlag op die muntstukke van Tsaar Konstantin Tih, van 1257 tot 1277
- Vlag van Bulgarye op Pietro Vesconte se seekaart van 1321
- Vlag van die Sjisjman-dinastie wes van Widin op ’n kaart (dateer 1325–1340) deur Angelino Dalorto
- Benaderde rekonstruksie van Dalorto se Portolaankaart
- Vlag van Weliko Tarnowo in 1325 (gebaseer op ’n Italiaanse kaart geteken deur Angelo Delto)
- Vlag oor Warna op Guillem Soler se Portolaankaart, ca. 1385
- Vlag van die Tweede Bulgaarse Ryk in 1380, onder Tsaar Iwan Sjisjman, gebaseer op ’n Middeleeuse kaart geteken deur Guillem Soler
- Vlag van Bulgarye op Battista Beccario se 1426-kaart
- Vlag van die Bulgaarse Vrywilligerskorps tydens die Russies-Turkse Oorlog
Moderne Bulgaarse state
[wysig | wysig bron]- Vlag van Stefan Karadja se leër
- Bulgaarse rewolusionêre vlag tydens die April-opstand
- Vlag van Filip Totju se leër
- Vlag van Rakowski, die Bulgaarse Rooi Leër en die vrywilligers tydens die Serwies-Turkse Oorlog
- Vlag van die Stara Zagora-opstand in 1875
- Vlag van die Troyan-komitee van die Interne Rewolusionêre Organisasie
Vlag van die Bulgaarse minderheid in Joego-Slawië
Vlagwet
[wysig | wysig bron]Die Wet op die Staatseël en Nasionale Vlag van die Republiek Bulgarye wat op 24 April 1998 gepromulgeer is, stel die volgende:
| Art. 15. (1) Die nasionale vlag van die Republiek Bulgarye is ’n nasionale simbool wat die onafhanklikheid en soewereiniteit van die Bulgaarse staat uitdruk.
(2) Die nasionale vlag van die Republiek Bulgarye is driekleur: wit, groen en rooi bane wat horisontaal van bo na onder lê. Wanneer die vlag vertikaal vertoon word, word die kleure in wit, groen en rooi in vertikale bane vertoon met wit aan die vlagpaalkant. (3) Die nasionale vlag is reghoekig van aard. Die bane van die individuele kleure is ewe groot en lê horisontaal op die reghoek.[18] |
Die Wet op die Staatseël en Nasionale Vlag van die Republiek Bulgarye bepaal na die kleure ook die vorm en afmetings van die nasionale vlag van Bulgarye:
- Vorm – reghoekig met ’n breedte-lengte-verhouding van 3:5. Wanneer die vlag vertikaal gehys of aan ’n dwarsbalk vasgemaak word mag die maksimum lengte vyf breedtes wees.
- Afmetings – 18 × 30 cm, 24 × 40 cm, 90 × 150 cm, 129 × 215 cm.
Ontwerp
[wysig | wysig bron]Die Bulgaarse vlag het die volgende tegniese ontwerp:

Kleure
[wysig | wysig bron]Aanhangsel 2 tot die Wet oor die Staatseël en Nasionale Vlag van die Republiek Bulgarye bepaal die kleure wanneer die vlag op papier of tekstiele gedruk word.[19]
Dié wet bepaal nie watter kleurwaardes vir digitale weergawes van die vlag gebruik sal word nie. Die webwerf van die Bulgaarse staatsdiens beveel benaderde kleure aan (let daarop dat die desimale RGB-waardes teenstrydig is met die heksadesimale “webveilige”-waardes).[20]
Die kleure van die nasionale vlag is wit, groen en rooi. Volgens die Standaardiserings- en Metrologiekomitee is die vlag se kleure soos volg bepaal:
Kleurskema |
Wit | Groen (digital) | Rooi (digital) | Groen (tekstiel) | Rooi (tekstiel) |
|---|---|---|---|---|---|
| Pantone[21] | Witheid groter as 80% | Nie beskikbaar nie | Nie beskikbaar nie | 17-5936 TCX[22] | 18-1664 TCX[23] |
| Pantone[21] | Witheid groter as 80% | 347 U | 032 U | Nie beskikbaar nie | Nie beskikbaar nie |
| RGB | Rooi = 255 Groen = 255 Blou = 255 Heksadesimaal = #FFFFFF |
Rooi = 0 Groen = 153 Blou = 0 Heksadesimaal = #009900[21] |
Rooi = 204 Groen = 0 Blou = 0 Heksadesimaal = #CC0000[21] |
Rooi = 0 Groen = 150 Blou = 110 Heksadesimaal = #00966E |
Rooi = 214 Groen = 38 Blou = 18 Heksadesimaal = #D62612 |
| CMYK | Siaan = 0% Magenta = 0% Geel = 0% Swart = 0% |
Siaan = 100% Magenta = 0% Geel = 100% Swart = 0% |
Siaan = 0% Magenta = 100% Geel = 100% Swart = 0% |
Siaan = 100% Magenta = 0% Geel = 26.67% Swart = 41.18% |
Siaan = 0% Magenta = 82.24% Geel = 91.59% Swart = 16.18% |
Vlagprotokol
[wysig | wysig bron]

Die nasionale vlag van die Republiek Bulgarye word permanent gehys by:
- Die Nasionale Vergadering van Bulgarye
- Die Presidensie (die kantoor van die Bulgaarse President)
- Departemente en ander staatsinstellings, streekstakke van departemente en distriksadministrasies
- Die Grondwetlike Hof van Bulgarye
- Die geregtelike owerhede
- Die Bulgaarse Nasionale Bank
- Die Bulgaarse Nasionale Televisie en die Bulgaarse Nasionale Radio
- Munisipaliteite, streke en stadsale, sowel as staats- en munisipale skole
- Grensposte en doeanepunte
- Hawens, treinstasies en lughawens
- Bulgaarse diplomatieke en konsulêre missies
Die nasionale vlag van die Republiek Bulgarye word tydelik gehys op die geboue waar sittings van die Nasionale Vergadering of vergaderings van munisipale rade, internasionale konferensies of vergaderings, nasionale of internasionale sport en ander kompetisies van nasionale belang gehou word.
Die nasionale vlag van die Republiek Bulgarye word aan die voorkant regs van voertuie en op die voorste mas van vaartuie geplaas wanneer die President van die Republiek, die Adjunkpresident, die Speaker van die Nasionale Vergadering of die Eerste Minister teenwoordig is.
Die nasionale vlag van die Republiek Bulgarye word by die eenhede van die Bulgaarse Weermag en op die skepe van die Vloot gehys volgens die militêre regulasies.
Militêre vlae
[wysig | wysig bron]Die gevegsvlag van ’n militêre eenheid van die Bulgaarse Weermag is 120 by 120 cm groot, die ontwerp van die voor- en agterkant is dieselfde, gemaak van sy, met goudgeel franjes aan drie kante. In voorkoms lyk dit soos die gevegsvlae van 1881 en 1937. Die kleure is aan die nasionale vlag ontleen. Aan die basis daarvan is die kruis van die Orde “Vir Dapperheid” in rooi. In die middel is ’n goue leeu, wat na heraldies regs kyk, op ’n skild op ’n wit veld. In die vier hoeke van ’n groen veld is geborduurde goue louriermonogramme met die voorletters “БА” (Българска армия, vir Bulgaarse Weermag) in die middel. In die boonste deel van die vlag in die middel is die teks “Vir die Republiek Bulgarye” (За Република България) of “God is met ons” (С нами Бог) geborduur. Die vlag is aan ’n houtpaal van 260 cm lank en 4 cm in deursnee vasgemaak, in die middel is ’n koperband waarop die nommer, die naam van die eenheid en die datum van oorhandiging van die gevegsvlag gegraveer is. Aan die boonste punt van die paal is ’n metaalleeu en twee silwer kordels, vasgemaak aan goue linte. Tot dusver is geen Bulgaarse vlag tydens militêre operasies verower nie.
Vlootvaandel
[wysig | wysig bron]Die vlootvaandel van die Republiek Bulgarye is 90 by 60 cm groot en gebruik die kleure van die nasionale vlag – ’n wit baan, nie so breed nie, maar minstens 36 cm, asook groen en rooi bane – elkeen 12 cm. In die skildhoek is ’n leeu, wat na heraldies regs kyk. Daar is ook ’n vlootvaandel vir die President van die Republiek Bulgarye, die Voorsitter van die Ministerraad, die Minister van Verdediging en die Minister van Binnelandse Sake.
Vlootgeuse
[wysig | wysig bron]Die vlootgeus word by die boeg van oorlogskepe geplaas as ’n plaasvervanger vir die vlootvaandel. Dit is nie duidelik wanneer die eerste Bulgaarse vlootgeus geskep is nie, maar in elk geval ontbreek dit in die “Album van die Standaarde en Vlae van Buitelandse State” wat in 1898 in Sint Petersburg gepubliseer is. Dit het vir die eerste keer verskyn in die “Album van die Standaarde en Vlae van Buitelandse State” wat deur kolonel Bogoslowsky saamgestel en in 1912 gepubliseer is. Dit is ’n wit vierkantige vlag met ’n rooi Sint Joriskruis en ’n groen Sint Andreaskruis daarop geplaas.
Lugmagembleem
[wysig | wysig bron]Ander vlae
[wysig | wysig bron]Historiese vlae
[wysig | wysig bron]Soortgelyke vlae
[wysig | wysig bron]Die ontwerp van die vlag van Bulgarye stem baie ooreen met die vlag van Hongarye, behalwe dat die verhouding verskil en die kleure anders gerangskik is.
Sien ook
[wysig | wysig bron]Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ (en) "Bulgarye". Flags of the World. Besoek op 3 Februarie 2021.
- ↑ (en) "The Responses of Pope Nicholas I to the Questions of the Bulgars A.D. 866 (Letter 99)". Internet Medieval Sourcebook. Fordham University Center for Medieval Studies. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 November 2021. Besoek op 10 November 2019.
- ↑ (en) "Madrid Skylitzes" (PDF). World Digital Library. Januarie 1100. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 4 April 2019. Besoek op 4 April 2019.
- 1 2 (cu) "Vatikaanse kopie van die Manasses-kronieke". Vatikaanse Biblioteek. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Februarie 2021. Besoek op 7 Februarie 2021.
- ↑ (en) "Map of Battista Beccario, 1426". Bavarian State Library. Besoek op 23 September 2019.
- ↑ (en) "Kaart deur Angelino Dalorto, c. 1325". Besoek op 25 Oktober 2019.
- ↑ (la) "Kaart deur Pietro Vesconte, c.1325". Vatikaanse Biblioteek. Besoek op 30 Junie 2019.
- ↑ (bg) Iwan Kanchef. "Знамената на българското опълчение". Bulgarian History. Besoek op 21 Augustus 2024.
- ↑ (bg) "Видеоурок за създателката на българското знаме". BNT. 23 Mei 2016. Besoek op 21 Augustus 2024.
- ↑ (bg) Pawel B. Monchef. "Иван и Стиляна Параскевови – създатели на първообраза на българското национално знаме". Bulgarian History. Besoek op 21 Augustus 2024.
- ↑ (bg) "Tarnovo-grondwet van 1879". Juridiese Ensiklopedie. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 September 2007. Besoek op 11 September 2007.
- ↑ (en) "Begrip vir die Bulgaarse vlag". Information Bulgaria. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Januarie 2019. Besoek op 4 Januarie 2019.
- ↑ (en) "Grondwet van die Republiek van Bulgarye". Nasionale Vergadering van die Republiek Bulgarye. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 November 2010. Besoek op 10 November 2010.
- ↑ (bg) "Nieamptelike vlag". Darik Nuus. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 April 2014. Besoek op 8 April 2014.
- ↑ (bg) "Bulgaarse Somerproteste 2013". Darik Nuus. 26 Junie 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Junie 2013. Besoek op 29 Junie 2013.
- ↑ (bg) "Nieamptelike vlag". TheConversation.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Junie 2013. Besoek op 26 Junie 2013.
- ↑ (bg) "Proteste in Bulgarye: die onopgemerkte opstand". TheConversation.com. 24 Junie 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Junie 2013. Besoek op 29 Junie 2013.
- ↑ (en) "Wet op die Staatseël en Nasionale Vlag van die Republiek Bulgarye". Nasionale Vergadering van die Republiek. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Junie 2010. Besoek op 4 Junie 2010.
- ↑ (bg) "Lex.bg - Закони, правилници, конституция, кодекси, държавен вестник, правилници по прилагане". Besoek op 29 April 2026.
- ↑ (bg) "Знаме". Institusionele Identiteit van die Bulgaarse Staatsadministrasie. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Maart 2024. Besoek op 27 Maart 2024.
- 1 2 3 4 (bg) "Институционална идентичност на българската държавна администрация". Institusionele Identiteit van die Bulgaarse Staatsadministrasie. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Januarie 2020. Besoek op 22 Januarie 2020.
- ↑ (en) "PANTONE 17-5936 TCX Simply Green – Find a Pantone Color – Quick Online Color Tool". Pantone.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Augustus 2017. Besoek op 9 Augustus 2017.
- ↑ (en) "PANTONE 18-1664 TCX Fiery Red – Find a Pantone Color – Quick Online Color Tool". Pantone.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Augustus 2017. Besoek op 9 Augustus 2017.
Bronnelys
[wysig | wysig bron]- (bg) Iwan Wojnikof. "Part II. The Bulgarian flag through the centuries". History of the Bulgarian State Symbols. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Junie 2017. Besoek op 26 Junie 2017.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]| Wikimedia Commons bevat media in verband met Vlae van Bulgarye. |
- (en) Bulgarye by Flags of the World.
- (it) Vlag van Bulgarye op www.rbvex.it
- (en) "Vlag van Bulgarye". Encyclopædia Britannica. Besoek op 3 Februarie 2021.
- (bg) (en) Bulgaarse Heraldiese en Vlagkundige vereniging
- (bg) Wet op die Staatseël en Nasionale Vlag van die Republiek Bulgarye
- (en) Oor Bulgaarse nasionale simbole




