Gaan na inhoud

Teotihuacán

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Teotihuacán
Die Laan van die Dooies en die Piramide van die Son, soos gesien van die Piramide van die Maan af.
Die Laan van die Dooies en die Piramide van die Son, soos gesien van die Piramide van die Maan af.
Koördinate19°41′33″N 98°50′38″W
LandMexiko
SoortAntieke stad
StreekTeotihuacán-munisipaliteit
Oppervlakte3 381,71 ha
Geskiedenis
TydperkLaat voorklassiek tot laat klassiek
Unesco-wêrelderfenisgebied
KriteriaKultureel: i, ii, iii, iv, vi
Verwysing414
Inskripsie1987 (11de sitting)
Streek†Meso-Amerika
Beskrywing*Voor-Spaanse stad Teotihuacán
Streek soos deur Unesco geklassifiseer.
* Naam soos op die Wêrelderfenislys


Teotihuacán (Nahuatl: Tēotīhuacān, ; Spaans: Teotihuacán, [teotiwa'kan], ) is 'n antieke Meso-Amerikaanse stad in 'n subvallei[1] van die Vallei van Mexiko. Die vallei is geleë 40 km noordoos van die huidige Mexikostad[2] in die Mexikaanse deelstaat México.

Ligging van Teotihuacán in Mexiko.
'n Model van Teotihuacán.

Teotihuacán is vandag bekend as die terrein van baie van die belangrikste Meso-Amerikaanse piramides wat in die Amerikas van voor Columbus gebou is, naamlik die Piramide van die Son en die Piramide van die Maan. Hoewel Teotihuacán naby Mexikostad lê, was dit nie 'n Asteekse stad nie. Dit bestaan van baie eeue voor die Asteekse Ryk. Op sy hoogtepunt, miskien in die eerste helfte van die 1ste millennium (1-500 n.C.), was Teotihuacán die grootste stad in die Amerikas, met 'n bevolking van minstens 25 000.[3] Dit word op 125 000 of meer geraam,[4][5] wat dit sowat die sesde grootste stad ter wêreld in sy tydperk maak.[6]

Die stad se oppervlakte was 21 km2 en het 80 tot 90 persent van die vallei se bevolking gehuisves. Benewens die piramides is Teotihuacán ook antropologies belangrik vir sy komplekse woongeboue vir veelvoudige gesinne; sy Laan van die Dooies; en sy helderkleurige, goed bewaarde muuskilderings. Die stad het ook verfynde gereedskap van lawaglas uitgevoer wat deur die hele Meso-Amerika ontdek is. Teotihuacán is omstreeks 100 v.C. gebou, met groot monumente wat deurlopend opgerig is tot omstreeks 250 n.C.[4] Die stad het dalk bestaan tot tussen die 7de en 8ste eeu, maar sy grootste monumente is omstreeks 550 stelselmatig geplunder en afgebrand.

Teotihuacán het omstreeks die eerste eeu n.C. ’n godsdienssentrum op die Mexikaanse Plato geword: die grootste en digs bevolkte sentrum in die Amerikas voor Columbus. Dit het meerverdiepingwoonstelle gehad om die groot bevolking te huisves.[4]

Hoewel daar gedebatteer word oor of Teotihuacán die middelpunt van ’n staatsryk was, is sy invloed deur Meso-Amerika goed gedokumenteer. Bewyse van ’n Teotihuacán-teenwoordigheid is by talle terreine in Veracruz en die Maja-streek gevind. Die latere Asteke het hierdie indrukwekkende ruïnes gesien, aanspraak op ’n gemeenskaplike herkoms met die Teotihuacane gemaak en elemente van hulle kultuur aangepas en oorgeneem. Die etnisiteit van die inwoners van Teotihuacán is onseker. Moontlike kandidate is die etniese groepe Nahua, Otomi en Totonac. Ander navorsers het voorgestel Teotihuacán was multi-etnies vanweë die ontdekking van kulturele elemente wat met ander volke verbind word.

Dit is duidelik dat baie verskillende kultuurgroepe in Teotihuacán gewoon het tydens die hoogtepunt van sy mag, met migrante wat van oral gekom het.[7][8] Ná die ineenstorting van Teotihuacán is Sentraal-Mexiko deur meer streekmoondhede oorheers.

Die stad en argeologiese terrein is geleë in wat nou die San Juan Teotihuacán-munisipaliteit in die staat Mexiko is, ongeveer 40 km noordoos van Mexikostad. Die terrein beslaan ’n totale oppervlakte van 83 km2 en is in 1987 as ’n Unesco-wêrelderfenisgebied aangewys.[9] Dit was in 2024 die tweede mees besoekte argeologiese terrein in Mexiko, met 1 313 321 besoekers.[10]

Etimologie

[wysig | wysig bron]

Die naam "Teōtīhuacān" is eeue ná die val van die stad omstreeks 550 n.C. deur die Nahuatlsprekende Asteke aan die stad gegee. Die term is verklaar as “geboorteplek van die gode” of “plek waar die gode gebore is”,[11] wat die Asteke se skeppingsmites weerspieël wat sou plaasgevind het in Teotihuacán. Die Nahuatlkenner Thelma D. Sullivan vertolk die naam as “plek van dié wat die pad van die gode het.”[12] Dit is omdat die Asteke geglo het die gode het die heelal op daardie plek geskep.

Die oorspronklike naam van die stad is onbekend, maar dit verskyn in geskrifte uit die Majastreek as puh, of “Plek van Riete.”[13] Dit dui daarop dat Teotihuacán in die Majabeskawing van die klassieke tydperk beskou is as ’n plek van riete, soortgelyk aan ander postklassieke Sentraal-Mexikaanse nedersettings.

Sedert 23 Januarie 2018 is die naam "Teotihuacán" onder heroorweging deur kundiges, wat nou meen die terrein se naam is moontlik in die 16de eeu deur Spaanse koloniseerders verander. Die argeoloog Verónica Ortega van die Nasionale Instituut vir Antropologie en Geskiedenis verklaar die stad is oorspronklik waarskynlik "Teohuacan" genoem, wat “Stad van die Son” beteken eerder as “Stad van die Gode”, soos die huidige naam aandui.[14]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]
Die voorkant van die Piramide van die Son.
Die linkerkant van die Piramide van die Son.

Die eerste menslike nedersetting in die Teotihuacán-gebied dateer uit 600 v.C., en tot 200 v.C. het die terrein uit verspreide klein dorpe bestaan. Die geskatte totale bevolking van die vallei in dié tyd was ongeveer 6 000.[15] Van 100 v.C. tot 750 n.C. het Teotihuacán ontwikkel tot ’n enorme stedelike en administratiewe sentrum met kulturele invloede regdeur die breër Meso-Amerikaanse streek.

Die geskiedenis van Teotihuacan word onderskei deur vier opeenvolgende tydperke:

  • Tydperk I het tussen 200 en 1 v.C. geduur en merk die ontwikkeling van ’n duidelik stedelike gebied. In dié tydperk het Teotihuacán begin groei tot ’n stad toe plaaslike boere om sy oorvloedige fonteine begin saamtrek het.[16]
  • Tydperk II het tussen 1 n.C. en 350 n.C. geduur. In dié tyd het Teotihuacán ’n ontploffende groei getoon en gevorder tot die grootste metropool in Meso-Amerika. Faktore wat die groei beïnvloed het, sluit in die vernietiging van ander nedersettings as gevolg van vulkaniese uitbarstings en die ekonomiese aantrekking van die uitbreidende stad.[16] Dié instroming van nuwe inwoners het gelei tot ’n herorganisasie van stedelike behuising in die unieke woonstelkomplekse wat kenmerkend is van Teotihuacán.[16] Dié tyd is veral bekend vir sy monumentale argitektuur en beeldhouwerk, veral die bou van sommige van die bekendste terreine van Teotihuacán, naamlik die Piramides van die Son en die Maan.[17] Verder het die verskuiwing van politieke mag van die Tempel van die Geveerde Slang en die omliggende paleisstruktuur êrens tussen 250 en 350 n.C. na die Kompleks van die Laan van die Dooies plaasgevind.[18] Sommige kenners glo dit het ’n verskuiwing van ’n gesentraliseerde, monargiese politieke stelsel na ’n meer gedesentraliseerde en burokratiese organisasie verteenwoordig.[16][18] Omstreeks 300 n.C. is die Tempel van die Geveerde Slang ontwy, en bouwerk in die stad het in ’n meer egalitêre rigting voortgegaan, met die fokus op die oprigting van gerieflike klipwonings vir die bevolking.[19]
  • Tydperk III het van 350 tot 650 n.C. geduur en staan bekend as die klassieke tydperk van Teotihuacán, toe die stad die hoogtepunt van sy invloed in Meso-Amerika bereik het. Sy bevolking word op minstens 125 000 geraam, en die stad was een van die grootstes in die antieke wêreld, met 2 000 geboue binne ’n gebied van 18 km2.[20] Dit was ook in dié bloeitydperk dat Teotihuacán ongeveer die helfte van al die mense in die Vallei van Mexiko gehuisves het en so ’n soort hoofstad van Meso-Amerika geword het.[20] In dié tyd het ’n grootskaalse herbouing van strukture plaasgevind, en die Tempel van die Geveerde Slang, wat uit die vorige tydperk dateer, is met ’n plein met ryk beeldhouversiering bedek.[19] Tipiese kunsvoorwerpe uit dié tydperk is begrafnismaskers, meestal vervaardig uit groen klip en bedek met mosaïeke van turkoois, skulpe of lawaglas. Hierdie maskers was besonder eenvormig van aard.
  • Tydperk IV beskryf die tydperk tussen 650 en 750 n.C. Dit dui die einde aan van Teotihuacán as ’n groot magsentrum in Meso-Amerika. Die stad se elite-woonkomplekse, wat rondom die Laan van die Dooies gegroepeer was, toon talle brandmerke, en argeoloë veronderstel die stad het interne onrus beleef wat sy verval versnel het.[21] Faktore wat ook tot die verval van die stad bygedra het, sluit in die ontwrigting van heffings, toenemende sosiale stratifikasie en magskampe tussen die heersende en tussengangerselite.[16] Ná hierdie verval het Teotihuacan steeds bewoon gebly, hoewel dit nooit weer sy vorige bevolkingsvlakke bereik het nie.

Oorsprong en stigting

[wysig | wysig bron]

Die vroeë geskiedenis van Teotihuacán is redelik geheimenisvol, en die oorsprong van sy stigters is onseker. Omstreeks 300 v.C. het mense uit die sentrale en suidoostelike dele van Meso-Amerika begin om in groter nedersettings saam te kom.[22] Teotihuacán was die grootste stedelike sentrum van Meso-Amerika voor die Asteke, sowat 1 000 jaar voor hulle tydperk.[22] Die stad was reeds in puin teen die tyd van die Asteke. Baie jare lank het argeoloë geglo dit is deur die Tolteke gebou. Dié geloof was gebaseer op tekste uit die koloniale tydperk wat die terrein aan die Tolteke toegeskryf het. Die Nahuatlwoord Toltec beteken egter oor die algemeen “ambagsman van die hoogste vlak” en verwys nie noodwendig na die Tolteekse beskawing wat in Tula, Hidalgo, gesentreer was nie. Aangesien die Tolteekse beskawing eeue ná Teotihuacán gebloei het, kon hulle nie die stigters van die stad gewees het nie.

In die Laat Vormingstydperk het verskeie stedelike sentrums in Sentraal-Mexiko ontstaan. Die prominentste hiervan was blykbaar Cuicuilco, aan die suidelike oewer van die Texcocomeer. Navorsers het bespiegel dat die uitbarsting van die Xitle-vulkaan moontlik ’n massaemigrasie uit die sentrale vallei na Teotihuacán kon veroorsaak het. Hierdie setlaars kon die stigting of versnelde groei van die stad veroorsaak het.[23]

Ander geleerdes het voorgestel die Totonacvolk was die stigters van Teotihuacán. Hulle het aangevoer dat Teotihuacán ’n multi-etniese staat was, aangesien daar uiteenlopende kulturele elemente gevind is wat verbind word met die Maja- en ander beskawings.[24] Die bouers van Teotihuacán het voordeel getrek uit die geografie van die Bekken van Mexiko. Uit die moerasagtige grond het hulle verhoogde landerye, genaamd chinampas, gebou wat hoë landbouproduktiwiteit moontlik gemaak het ten spyte van ou landboutegnieke.[22] Dit het die vorming van kanale, en gevolglik kanoverkeer, moontlik gemaak om voedsel vanaf plase rondom die stad te vervoer. Die vroegste geboue in Teotihuacán dateer uit ongeveer 200 v.C. en die grootste piramide, die Piramide van die Son, is teen 100 n.C. voltooi.[25]

Verowering van Tikal

[wysig | wysig bron]

Geen bewyse van 'n koning of ander outoritêre leier is in Teotihuacán gevind nie, anders as in ander stede. Baie kenners glo die stad is lank deur 'n soort gesamentlike raad regeer.[26]

In Januarie 378 het die krygsheer Sihyaj K'ahk' (letterlik "uit vuur gebore" in die taal van die Maja, hoewel sy oorspronklike naam onbekend is) Tikal, amper 1 000 km van Teotihuacán af, verower en die Majakoning vervang, soos aangeteken op monumente in die Majastreek. In dié tyd is die heerser "die Spiesgooiende Uil" ook met die Teotihuacán-kultuur verbind.[27]

Verowering van Copán and Quiriguá

[wysig | wysig bron]

In 426 is die Copán-heersersdinastie geskep met K'inich Yax K'uk' Mo' as die eerste koning. Die dinastie het 16 heersers gehad.[28] Copán is geleë in die hedendaagse Honduras.[29] Kort daarna het Yax K'uk' Mo' vir Tok Casper aangestel as koning van Quiriguá, sowat 50 km noord van Copán.

Hoogtepunt

[wysig | wysig bron]

Die stad het sy hoogtepunt in 450 n.C. bereik toe dit die sentrum was van ’n magtige kultuur waarvan die invloed oor groot dele van die Meso-Amerikaanse streek gestrek het. Op hierdie tydstip het die stad meer as 30 km2 beslaan en moontlik ’n bevolking van 150 000 gehad, met een raming selfs tot 250 000. Verskeie distrikte in die stad het mense uit die hele Teotihuacán-streek van invloed gehuisves, wat so ver suid as Guatemala gestrek het. Opvallend afwesig in die stad is versterkings en militêre strukture.

Uitsig vanaf die Piramide van die Son na die Piramide van die Maan.

Die aard van die politieke en kulturele interaksies tussen Teotihuacán en die sentrums van die Majastreek (sowel as elders in Meso-Amerika) is ’n langdurige onderwerp van debat. Beduidende uitruiling en interaksie het oor die eeue heen plaasgevind, van die Preklassieke tot die Middelklassieke tydperk. “Teotihuacán-geïnspireerde ideologieë” en motiewe het by Majasentrums voortgeduur tot in die Laat Klassieke tyd, lank nadat Teotihuacán self verval het.[30] Geleerdes verskil egter oor die omvang en graad van Teotihuacán se invloed. Sommige glo dit het direkte en militaristiese oorheersing uitgeoefen, terwyl ander die aanvaarding van “vreemde” kenmerke beskou as deel van ’n selektiewe, doelbewuste kulturele tweerigtingvermenging. Nuwe ontdekkings dui daarop dat Teotihuacán se interaksie met ander sentrums nie veel verskil het van dié van latere ryke soos die Tolteke en Asteke nie.[31][32]

Platform aan die Laan van die Dooies wat die "talud-tablero"- argitektoniese styl toon
'n Gerekonstrueerde deel van Teotihuacán-argitektuur wat die tipiese Meso-Amerikaanse gebruik van rooi verf toon, gekomplementeer deur goue en jadeversiering op marmer en graniet.

Argitektoniese style wat prominent in Teotihuacán was, word wydverspreid op verskeie verafgeleë Meso-Amerikaanse terreine aangetref, wat sommige navorsers as bewyse beskou van Teotihuacán se wye interaksies en politieke of militaristiese oorheersing.[33] ’n Styl wat veral met Teotihuacán verbind word, staan bekend as "talud-tablero", waarin die buitevlak van ’n struktuur (talud) wat na binne hel, gekroon word deur ’n reghoekige paneel (tablero). Variante van dié algemene styl word op ’n aantal terreine in die Majastreek aangetref, insluitend Tikal, Copán, Becan en Oxkintok, veral in die sentrale hooglande van die huidige Guatemala.[34]

Die "talud-tablero"-styl dateer van voor sy vroegste verskyning in Teotihuacán tydens die Vroeë Klassieke periode; dit kom blykbaar oorspronklik uit die Tlaxcala-Puebla-streek.[35] Ontledings het die ontwikkeling na plaaslike variante van die styl opgespoor op terreine soos Tikal, waar die gebruik daarvan die 5de-eeuse verskyning van ikonografiese motiewe wat met Teotihuacán gedeel is, voorafgaan. Die styl het oor die algemeen deur Meso-Amerika versprei van die einde van die Preklassieke tydperk, en nie spesifiek deur Teotihuacán-invloed nie.

Dit is onduidelik hoe of van waar die styl in die Majastreek versprei het. Gedurende sy hoogtepunt is die hoofstrukture van Teotihuacán, insluitend die piramides, in indrukwekkende skakerings van donkerrooi geverf, met sommige klein kolle wat tot vandag toe oorbly.[36]

Die stad was ’n nywerheidsentrum en die tuiste van talle pottebakkers, juweliers en ambagslui. Teotihuacán is bekend vir die vervaardiging van ’n groot aantal lawaglasartefakte. Geen antieke Teotihuacán-tekste wat nie-ideografies is, bestaan sover bekend of het bestaan nie. Opskrifte uit Majastede toon Teotihuacán-edeles het na verafgeleë plekke soos Honduras gereis, en het moontlik plaaslike heersers verower.

Maja-inskripsies noem ’n individu wat deur geleerdes "die Spiesgooiende Uil" genoem word, blykbaar ’n heerser van Teotihuacán wat langer as 60 jaar regeer het en sy familielede as heersers van Tikal en Uaxactun in Guatemala aangestel het.

Geleerdes het interpretasies van Teotihuacán se kultuur gebaseer op sy argeologie, muurskilderings wat die terrein versier en hiërogliefinskripsies deur die Maja wat hulle ontmoetings met Teotihuacán-veroweraars beskryf. Die skepping van muurskilderings – moontlik tienduisende daarvan – het sy hoogtepunt bereik tussen 450 en 650 n.C. Die vaardigheid van die skilders was ongeëwenaard in Meso-Amerika en is vergelyk met dié van skilders in die Florence van die Renaissance.[37]

Verval

[wysig | wysig bron]
'n Kat se kop, Teotihuacán, Mexiko.
'n Masker in 'n Teotihuacán-styl, Klassieke Tydperk. Walterskunsmuseum, Maryland.

Geleerdes het oorspronklik gedink indringers het die stad in die 7de of 8ste eeu aangeval, dit geplunder en aan die brand gesteek. Meer onlangse bewyse dui egter daarop dat die brand beperk was tot die strukture en wonings wat hoofsaaklik met die regerende klas verbind is.[38] Sommige meen dit dui daarop dat die brand die gevolg van ’n interne opstand was, en dat die invalsteorie gebrekkig is omdat vroeë argeologiese ondersoeke uitsluitlik op die paleise en tempels gefokus het – plekke wat deur die hoër klasse gebruik is. Die vernietiging was gekonsentreer op groot burgerlike strukture aan die Laan van die Dooies. Die beeldhouwerke binne paleisagtige strukture, soos Xalla, is verpletter.[39] Geen spore van ’n buitelandse inval is op die terrein sigbaar nie.[38]

Bewyse van ’n bevolkingsafname wat omstreeks die 6de eeu begin het, ondersteun gedeeltelik die hipotese van interne onrus. Die agteruitgang van Teotihuacán is in verband gebring met langdurige droogtes wat verband hou met die uiterse weerstoestande van 535-'36. Dit is moontlik veroorsaak deur die uitbarsting van die Ilopango-vulkaan in El Salvador. Dié teorie van ekologiese agteruitgang word ondersteun deur argeologiese oorblyfsels wat ’n toename toon in die persentasie jong skedels met tekens van wanvoeding gedurende die 6de eeu – verdere steun vir die hipotese dat hongersnood een van die waarskynlikste redes vir Teotihuacán se verval was. Die verstedelikte Teotihuacane was waarskynlik afhanklik van landbougewasse soos mielies, boontjies, tamaties en pampoene. As klimaatsverandering die oesopbrengs beïnvloed het, sou die oeste onvoldoende gewees het om Teotihuacán se groot bevolking te voed.[40] Die twee hoofhipoteses sluit mekaar egter nie uit nie. ’n Droogte wat tot hongersnood gelei het, kon tot invalle deur kleiner omliggende beskawings sowel as interne onrus gelei het.[41]

Namate Teotihuacán in plaaslike belangrikheid afgeneem het, het ander nabygeleë sentrums soos Cholula, Xochicalco en Cacaxtla meegeding om die magsvakuum te vul. Hulle kon selfs saam die geleentheid aangegryp het om Teotihuacán se invloed en mag verder te verswak. Die kuns en argitektuur by dié terreine boots Teotihuacán-vorme na, maar toon ook ’n eklektiese mengsel van motiewe en ikonografie uit ander dele van Meso-Amerika, veral uit die Majastreek.

Die skielike vernietiging van Teotihuacán was algemeen onder Meso-Amerikaanse stadstate van die Klassieke en Epiklassieke periodes. Baie Majastate het in daaropvolgende eeue soortgelyke lotgevalle ondergaan. In die nabygeleë Morelosvallei is Xochicalco in 900 geplunder en aan die brand gesteek, en Tula het omstreeks 1150 ’n soortgelyke lot getref.[42]

Kultuur

[wysig | wysig bron]
Bouwerk in die Teotihuacán-styl, 400-700 n.C. (Brooklynmuseum).

Argeologiese bewyse dui daarop dat Teotihuacán ’n multi-etniese stad was, en hoewel die oorheersende taal of tale wat daar gebruik is verlore gegaan het, blyk vroeë vorme van Totonak en Nahuatl hoogs waarskynlik te wees.[43] Dié duidelik streeksuiteenlopende bevolking van Teotihuacán kan teruggevoer word na ’n natuurramp wat voor die bevolkingsontploffing plaasgevind het. Omstreeks 100 v.C. het die berg Xitle, ’n aktiewe vulkaan, uitgebars en Cuicuilco sowel as die landbougrond wat dit ondersteun het, swaar getref. Daar word geglo die daaropvolgende eksponensiële groei van Teotihuacán se bevolking was te danke aan die migrasie van die mense wat deur dié of 'n vroeëre uitbarsting (van Popocatépetl in die middel van die eerste eeu) ontheem is.[43][44]

Omtreeks 1-150 n.C. het Teotihuacán ’n bevolkingsgroei ervaar van tot tussen 60 000 en 80 000 mense, waarvan die meeste glo uit die Mexikaanse bekken afkomstig was.[45] Teotihuacán se woonkomplekse toon bewyse van verdeling in drie klasse: die hoë elite, die middelklas-elite en die werkersklas.[46] Huise verskil klaarblyklik in hulle kunsvaardigheid en kompleksiteit.[46] Gebaseer op die gehalte van boumateriaal, grootte van kamers en die verskeidenheid van gevonde voorwerpe, blyk dit dat wonings wat uit die sentrale distrik en langs die Laan van die Dooies uitstraal, deur individue van 'n hoër status bewoon is.[46] Die komplekse van die hoër elite was dikwels versier met uitgebreide muurskilderings. Tematiese elemente van die muurskilderings was optogte van luuks geklede priesters, jaguars, die stormgod, en ’n anonieme godin wie se hande geskenke van mielies, edelstene en water was.[47][48] Afwesig in Teotihuacán se kuns is geskrewe taal, ten spyte daarvan dat die stad noue kontak met die geletterde Maja gehad het.[49] Die werkersklasse, self ook gestratifiseer, het bestaan uit boere, gespesialiseerde ambagslui en die perifere landelike bevolking.[50]

Die verskillende soorte ambagslui het in woonstelkomplekse gewoon wat oor die stad versprei was, bekend as buurt- of gemeenskapsentrums, en bewyse toon dat hierdie sentrums die ekonomiese en kulturele enjins van Teotihuacán was.[50] Die sentrums, wat deur die elite gestig is om die luukse goedere wat die ambagslui vervaardig het te vertoon, het die uiteenlopendheid van produkte weerspieël wat verder versterk is deur die hoë konsentrasie immigrante uit verskillende streke van Meso-Amerika.[50] Saam met argeologiese bewyse wat toon dat tekstiele een van die primêre handelsitems was, het ambagslui hulle vaardigheid getoon in skilder, bouwerk, musiekuitvoerings en militêre opleiding.[50] Die buurtsentrums het dikwels gelyk soos afsonderlike woonkomplekse, omring deur fisiese grense wat hulle van ander geskei het. Op hierdie manier het Teotihuacán ’n interne ekonomiese mededinging ontwikkel wat produktiwiteit aangevuur en ’n unieke sosiale struktuur geskep het wat van die groter stedelike orde verskil het.[50]

Die herhalende handelinge van die ambagslui het hulle fisiese merk gelaat.[50] Op grond van slytasie aan tande kon argeoloë bepaal dat sommige individue met vesels tussen hulle voortande gewerk het, wat aandui dat hulle nette gemaak het, soos dié wat in muurskilderings uitgebeeld word.[50] Vroulike skelette toon bewyse dat hulle moontlik vir lang tydperke handwerk gedoen of geskilder het – wat ooreenstem met die hoofbedekkings wat geskep is, asook die pottebakkery wat gebak en geverf is. Slytasie aan sekere gewrigte dui op die dra van swaar voorwerpe oor lang tydperke.

Die wonings van die landelike bevolking was in enklawes tussen middelklaswonings of aan die buitewyke van die stad geleë, terwyl kleiner nedersettings gevul met erdewerk uit ander streke daarop dui dat handelaars ook in hulle eie nedersettings gewoon het.[46]

Godsdiens

[wysig | wysig bron]

In An Illustrated Dictionary of the Gods and Symbols of Ancient Mexico and the Maya lys Miller en Taube agt gode:[51]

  • Die Stormgod[52]
  • Die Groot Godin
  • Die Geveerde Slang.[53] ’n Belangrike godheid in Teotihuacán; veral verbind met die Tempel van die Geveerde Slang.
  • Die Ou God
  • Die Oorlogslang. Taube het twee verskillende slanggodhede onderskei wie se uitbeeldings op die Geveerde Slang-piramide afwissel: die Geveerde Slang en wat hy die “Oorlogslang” noem. Ander navorsers is meer skepties.[54]
  • Die Netjaguar
  • Die Pulque-god (pulque is 'n gegiste drank uit Mexiko)[55]
  • Die Vet God. Veral bekend uit beeldjies en dus vermoedelik verbind met huishoudelike rituele.[56]

Esther Pasztory voeg nog een by:[57]

  • Die Afgeslagte God. Veral bekend uit beeldjies en dus vermoedelik verbind met huishoudelike rituele.[56]
’n Muurskildering wat geïdentifiseer is as die Groot Godin van Teotihuacán.

Die algemene siening onder geleerdes is dat die primêre godheid van Teotihuacan die Groot Godin was.[58] Die oorheersende burgerlike argitektuur is die piramides. Politiek was gebaseer op die staatsgodsdiens, en godsdiensleiers was ook die politieke leiers.[59] Godsdiensleiers sou kunstenaars opdrag gee om religieuse kunswerke vir seremonies en rituele te skep. Die kunswerke waarvoor waarskynlik opdrag gegee is, was muurskilderings of wierookhouers wat gode soos die Groot Godin of die Geveerde Slang uitbeeld. Wierookhouers sou tydens godsdienstige rituele aangesteek word om die gode aan te roep, insluitend rituele wat mense-offerandes behels het.[60]

Soos blyk uit menslike en dierlike oorskot wat tydens opgrawings van die piramides in die stad gevind is, het die Teotihuacane mense geoffer. Geleerdes glo mense-offerandes is gebring as deel van ’n inwyding wanneer geboue uitgebrei of opgerig is. Die slagoffers was waarskynlik vyandelike krygers wat in gevegte gevang en na die stad gebring is vir rituele offerandes om te verseker die stad kon voorspoedig wees.[61] Sommige mans is onthoof, ander se hart is verwyder, party is doodgeslaan met verskeie houe oor die kop en sommige is lewend begrawe. Diere wat as heilig beskou is en mitiese kragte of militêre simbole voorgestel het, is ook lewend begrawe of gevang en in hokke aangehou – soos poemas, wolwe, arende, valke, uile en selfs giftige slange.[62]

Talle klipmaskers is by Teotihuacan gevind, en daar is algemeen geglo dat hulle tydens begrafnisrituele gebruik is.[63] Ander navorsers bevraagteken dit egter en merk op dat die maskers “nie lyk of hulle uit begrafnisse kom nie”.[64]

Lawaglaswerkwinkels

[wysig | wysig bron]
'n Voorbeeld van 'n lawaglaslem uit Teotihuacán, Metropolitan-kunsmuseum, New York.

Die verwerking van obsidiaan, of lawaglas, was die bes ontwikkelde kunsvorm en die belangrikste bron van rykdom in Teotihuacán. Die werkwinkels het gereedskap of voorwerpe van lawaglas vir verskillende gebruike en soorte (swart en grys kleure) vervaardig wat bedoel was vir vir verhandeling buite die geografiese grense van die stad, met stede soos Tikal in Guatemala en sommige Majastate.[65] Beeldjies, lemme, pylpunte, meshandvatsels, juweliersware, maskers en ornamente was van die noemenswaardigste en algemeenste voorwerpe wat vervaardig is. Obsidiaan het hoofsaaklik uit die myne van Pachuca (Teotihuacán) gekom en die verwerking daarvan was die belangrikste bedryf in die stad, wat die monopolie in die handel van obsidiaan in die breër Middel-Amerikaanse streek verkry het.[66]

Die staat het ook die handel, beweging en vervaardiging van obsidiaangereedskap streng gemonitor, aangesien dit so ’n belangrike bedryf in die stad was dat dit beperk is tot die streekwerkwinkels waar die gereedskap vervaardig is.[67] Dié bros, maar sterk rots is hoofsaaklik in voorwerpe gevorm deur stukke van ’n groter keël af te kap. Hout- en beengereedskap is ook ontdek wat in die proses gebruik is.[68]

Argeologiese terrein

[wysig | wysig bron]

Kennis van die groot ruïnes van Teotihuacan het nooit heeltemal verlore gegaan nie. Ná die val van die stad het verskeie plakkers op die terrein gewoon. Gedurende die Asteke se tyd was die stad ’n pelgrimsoord en is dit verbind met die mite van Tollan, die plek waar die son geskep is. Vandag is Teotihuacán een van die bekendste argeologiese besienswaardighede in Mexiko.

Opgrawings en ondersoeke

[wysig | wysig bron]
Die Piramide van die Son en die Teotihuacán-diorama in die Teotihuacán-museum.

In die laat 17de eeu het Carlos de Sigüenza y Góngora (1645-1700) enkele opgrawings rondom die Piramide van die Son gedoen.[69] Klein argeologiese opgrawings is in die 19de eeu uitgevoer. In 1905 het die Mexikaanse argeoloog en regeringsamptenaar Leopoldo Batres ’n groot opgrawings-en-restourasieprojek gelei. Die Piramide van die Son is gerestoureer om die 100-jarige herdenking van die Mexikaanse Vryheidsoorlog in 1910 te vier.

Die terrein van Teotihuacán was die eerste een wat vir die nasionale erfenis onteien is ingevolge die wet op monumente (1897), wat wetlike jurisdiksie aan die Mexikaanse staat verleen het om beheer oor te neem. Boere op die terrein is gelas om te vertrek en die regering het eindelik ’n mate van vergoeding aan hulle betaal.[70] ’n Aansluitende spoorlyn is in 1908 na die terrein gebou, wat die doeltreffende vervoer van materiaal uit die opgrawings moontlik gemaak en later toeriste na die terrein vervoer het.[71] In 1910 het die Internasionale Kongres van Amerikaniste in Mexiko vergader; dit het saamgeval met die eeufeesvierings en die vooraanstaande afgevaardigdes is die pas voltooide opgrawings gewys.[72]

Verdere opgrawings by die Ciudadela onder toesig van Manuel Gamio is in die 1920’s uitgevoer. Tussen 26 April en 29 Julie 1932 het die Sweedse antropoloog/argeoloog Sigvald Linné, sy vrou en ’n klein span opgrawings in die Xolalpan-gebied uitgevoer.[73] Ander gedeeltes van die terrein is in die 1940’s en '50’s opgegrawe. Die eerste terreinwye projek van restourasie en opgrawings is tussen 1960 en 1965 onder toesig van Jorge Acosta uitgevoer. Die doel van dié onderneming was om die Laan van die Dooies skoon te maak, die strukture wat daaraan grens te konsolideer en die Paleis van Quetzalpapalotl op te grawe.[74]

Tydens die installasie van ’n klank-en-ligvertoning in 1971 het werkers die ingang na ’n tonnel-en-grotstelsel onder die Piramide van die Son ontdek.[75] Hoewel geleerdes lank gedink het dit is ’n natuurlike grot, het meer onlangse ondersoeke vasgestel dit is heeltemal deur mense gemaak.[76] Die binnekant van die Piramide van die Son is nog nooit volledig opgegrawe nie.

In 1980-'82 is nog ’n groot program van opgrawings en restourasie by die Piramide van die Geveerde Slang en die Laan van die Dooies-kompleks uitgevoer. Die mees onlangse reeks opgrawings was by die Piramide van die Maan.

Onlangse ontdekkings

[wysig | wysig bron]
Die tempel van die Geveerde Slang: argitektoniese detail aan die regterkant van die trap.

Laat in 2003 is ’n tonnel onder die Tempel van die Geveerde Slang per ongeluk deur Sergio Gómez Chávez en Julie Gazzola, argeoloë van die nasionale instituut vir antropologie en geskiedenis (INAH), ontdek. Ná dae van swaar reënval het Gómez Chávez opgemerk daar het ’n sinkgat van byna 'n meter breed naby die voet van die tempelpiramide ontstaan.[77][78]

Met ’n swaar tou om sy middel vasgemaak, het sy kollegas Gómez laat sak, en toe hy onder aankom, het hy besef dit is ’n perfek silindriese skag. Onder het hy op ’n duidelik antieke konstruksie afgekom – ’n mensgemaakte tonnel wat in albei rigtings met enorme klippe versper is. Gómez het geweet argeoloë het voorheen ’n smal tonnel onder die Piramide van die Son ontdek en het vermoed hy kyk nou na ’n soortgelyke tonnel wat na ’n ondergrondse kamer onder die Tempel van die Geveerde Slang lei. Hy het aanvanklik besluit om ’n duidelike hipotese te formuleer en goedkeuring te verkry om uitgrawings te doen. Intussen het hy ’n tent oor die sinkgat opgeslaan om dit te beskerm teen die honderdduisende toeriste wat Teotihuacán besoek. Navorsers het berig die tonnel is glo in 200 n.C. verseël.[78][79][80][81][82]

Die voorlopige beplanning van die ondersoek en geldinsameling het meer as ses jaar geduuur.[77] Voor die begin van die opgrawings, aan die begin van 2004, het Victor Manuel Velasco Herrera van die UNAM-instituut vir geofisika met behulp van grondpenetrerende radar en ’n span van sowat 20 argeoloë en werkers, die benaderde lengte van die tonnel en die teenwoordigheid van interne kamers bepaal. Hulle het die grond onder die Ciudadela skandeer en elke middag die resultate op Gómez se rekenaar gelaai.

Die Laan van die Dooies in Teotihuacán.

Teen 2005 was die digitale kaart voltooi. Die argeoloë het die tonnel met ’n afstandsbeheerde robot ondersoek: Dit was toegerus met ’n infrarooikamera en ’n laserskandeerder wat 3D visualisering genereer om ’n 3D opname van die ruimtes onder die tempel te maak. ’n Klein opening in die tonnelmuur is gemaak en die skandeerder het die eerste beelde vasgelê, 37 meter binne die gang.[77][78][83][84]

In 2009 het die regering aan Gómez toestemming gegee om te grawe. Teen die einde van 2009 het argeoloë van die INAH die ingang van die tonnel opgespoor wat na galerye onder die piramide lei, waar die oorblyfsels van heersers van die antieke stad moontlik geplaas is. In Augustus 2010 het Gómez Chávez aangekondig INAH se ondersoek van die tonnel – wat byna 1 800 jaar tevore deur die inwoners van Teotihuacán verseël is – sou voortgaan. Die INAH-span, bestaande uit sowat 30 mense, ondersteun deur nasionale en internasionale adviseurs op die hoogste wetenskaplike vlak, het beplan om die tonnel in September tot Oktober 2010 binne te gaan. Hierdie opgrawing, die diepste wat nog op die voor-Spaanse terrein uitgevoer is, was deel van die 100ste herdenking van argeologiese opgrawings by Teotihuacán en sy opening vir die publiek.[77][78]

'n Houer uit die tonnel.

Daar is genoem dat die ondergrondse gang onder die Tempel van die Geveerde Slang deur loop en dat die werklike ingang ’n paar meter van die tempel af op die verwagte plek geleë is. Dit is byna 2 000 jaar gelede met groot rotse verseël. Die gat wat tydens die 2003-storms verskyn het, was nie die werklike ingang nie. ’n Vertikale skag van byna 5 meter breed bied toegang tot die tonnel. Op 'n diepte van 14 meter lei die ingang na ’n byna 100 meter lange gang wat in ’n reeks ondergrondse galerye in die rots eindig.

Byna 1 000 ton grond en puin is uit die tonnel verwyder. Groot spiraalskulpe, katbene, erdewerk en fragmente van menslike vel is ontdek. Die ryk verskeidenheid voorwerpe wat opgegrawe is, het ingesluit houtmaskers bedek met ingelegde klip soos jade en kwarts, ingewikkelde halssnoere, ringe, groensteenkrokodiltande en menslike beeldjies, kristalle in die vorm van oë, kewervlerke in ’n houer gerangskik, beelde van jaguars, en honderde gemetalliseerde sfere. Die geheimsinnige sfere het in beide die noordelike en suidelike kamers gelê. Die balle was van 40 tot 130 millimeter breed; die kerne van klei was bedek met geel jarosiet wat gevorm is deur die oksidasie van piriet. Volgens George Cowgill van die Universiteit van Arizona is die sfere ’n fassinerende ontdekking: "Piriet is beslis deur die Teotihuacane en ander antieke Meso-Amerikaanse samelewings gebruik. Oorspronklik sou die sfere glansend gelyk het. Hulle is inderdaad uniek, maar ek het geen idee wat dit is nie."[84] Al hierdie artefakte is doelbewus en met betekenis geplaas, asof dit offerandes was om die gode te paai.[78][79]

Geofferde menslike oorlyfsels onder die Ciudadela.

Een van die merkwaardigste ontdekkings in die tonnelkamers was ’n miniatuurberglandskap, 17 meter ondergronds, met klein poele van vloeibare kwik wat mere voorstel.[78][79][85] Aan die einde van die gang het Gómez Chávez se span vier groensteenbeelde ontdek, geklee met gewade en krale; hulle oop oë sou geglinster het met kosbare minerale. Twee van die beeldjies was nog in hulle oorspronklike posisies, effens agteroor geleun en asof hulle opkyk na die as waar die drie vlakke van die heelal ontmoet – hulle was waarskynlik die stigter-sjamane van Teotihuacán wat pelgrims na die heiligdom gelei het en bondels heilige voorwerpe vir rituele gedra het, insluitend hangers en pirietspieëls wat beskou is as portale na ander wêrelde.[78][79]

Nadat elke nuwe segment skoongemaak is, het die 3D skandeerder die vordering gedokumenteer. Teen 2015 is byna 75 000 artefakfragmente ontdek, bestudeer, gekatalogiseer, ontleed en, waar moontlik, gerestoureer.[78][79][83][84] Die nuwe ontdekkings is in ’n groot uitstalling by die De Young-museum in San Francisco aan die publiek bekendgestel. Dit is laat in September 2017 geopen.[79][80]

Die onlangse ontdekking van ’n 1 800 jaar oue ruiker blomme is in 2021 gemaak. Die blomme, wat ontdek is in die tonnel onder die Tempel van die Geveerde Slang, dateer uit ongeveer 1 tot 200 n.C. Dit is die eerste keer dat sulke goed bewaarde plantmateriaal by Teotihuacán ontdek is.[86][87][88]

Terreinuitleg

[wysig | wysig bron]

Die stad se breë sentrale laan, genaamd die "Laan van die Dooies" (’n vertaling van sy Nahuatl-naam, Miccaotli), word omring deur indrukwekkende seremoniële argitektuur, insluitend die enorme Piramide van die Son (die derde grootste piramide in die wêreld wat volume betref). Die Piramide van die Maan en die Ciudadela met die Tempel van die Geveerde Slang is aan die twee teenoorgestelde punte van die laan geleë. Die Paleismuseum Quetzalpapálot, die vierde basiese struktuur van die terrein, lê tussen die twee piramides. Aan die laan is daar ook baie kleiner "talud-tablero"-platforms. Die Asteke het geglo dit is grafte, en dit het aanleiding gegee tot die naam van die laan. Kenners het nou vasgestel hierdie strukture was seremoniële platforms wat met tempels bedek was.

’n Herskepping van ’n kaart van die stad wat in die Junie 1967-uitgawe van Scientific American verskyn het, met die onderskrifbron by.

Die Laan van die Dooies is ongeveer 40 m breed en 4 km lank.[89] Verder af in die laan, ná ’n klein rivier, lê die gebied bekend as die Sitadel (Ciudadela), wat die verwoeste Tempel van die Geveerde Slang bevat. Dit was ’n groot plein, omring deur tempels wat die godsdienstige en politieke sentrum van die stad gevorm het. Die naam “Sitadel” is deur die Spanjaarde daaraan gegee, omdat hulle gedink het dit was ’n fort. Die meeste van die gewone mense het in groot woonstelgeboue gewoon wat oor die stad versprei was. Baie van die geboue het werkwinkels bevat waar ambagslui erdewerk en ander goedere vervaardig het.

Die stedelike uitleg van Teotihuacan toon twee effens verskillende oriëntasies, wat voortspruit uit beide astronomiese en topografiese oorwegings. Die sentrale deel van die stad, insluitend die Laan van die Dooies, stem ooreen met die oriëntasie van die Sonpiramide, terwyl die suidelike deel die oriëntasie van die Ciudadela weerspieël. Die twee konstruksies het sonsopkomste en sonsondergange op spesifieke datums aangedui, wat die gebruik van ’n waarnemingskalender moontlik gemaak het. Die oriëntasie van die Sonpiramide was bedoel om “die sonsopkomste op 11 Februarie en 29 Oktober en die sonsondergange op 30 April en 13 Augustus aan te teken. Die tydperk van 11 Februarie tot 29 Oktober, sowel as van 13 Augustus tot 30 April, is presies 260 dae.”[90] Die aangetekende intervalle is veelvoude van 13 en 20 dae, wat elementêre tydperke van die Meso-Amerikaanse kalender was.

Verder is die Sonpiramide in lyn met die berg Cerro Gordo in die noorde, wat beteken dit is doelbewus op ’n plek gebou waar ’n struktuur met ’n reghoekige grondplan beide topografiese en astronomiese vereistes kon bevredig. Die kunsmatige grot onder die piramide getuig verder van die belangrikheid van hierdie plek.[91][92]

Nog ’n voorbeeld van kunsmatige landskapwysigings is die loop van die San Juanrivier, wat aangepas is om om die strukture te buig terwyl dit deur die middel van die stad vloei. Dit sluit eindelik weer buite Teotihuacán by sy natuurlike koers aan.[93]

Uitsig van die Piramide van die Maan af, met die Piramide van die Son links in die middel.

Deur die hele stad en omliggende streke heen is daar gekapte kruissirkels wat as ’n manier gedien het om die stedelike rooster te ontwerp en hulle kalender van 260 dae te lees. Die stedelike rooster het groot betekenis vir die stadsbeplanners gehad toe Teotihuacán gebou is, aangesien die kruise op spesifieke plekke in die Sonpiramide en elders in Teotihuacán in presiese grade en hoeke oor drie kilometer ingekap is. Die uitleg van hierdie kruismerke dui daarop dat dit as ’n rooster vir die uitleg van die stad gedien het, aangesien hulle in ’n reghoekige vorm gelê is wat na die Laan van die Dooies front. Dié gekapte kruissirkels kom nie net in Teotihuacan voor nie, maar regdeur Meso-Amerika.

Die Ciudadela is tydens die Miccaotli-fase voltooi, en die Sonpiramide het ’n ingewikkelde reeks toevoegings en restourasies ondergaan. Die Groot Kompleks is dwarsoor die Laan van die Dooies, wes van die Ciudadela, gebou. Dit was waarskynlik die stad se markplein. Die bestaan van ’n groot mark in ’n stedelike sentrum van hierdie omvang is 'n sterk bewys van staatsorganisasie.

Die Ciudadela is ’n groot ingeslote plein wat 100 000 mense kon huisves. Ongeveer 700 000 m3 materiaal is gebruik om sy geboue te konstrueer. Die sentrale kenmerk daarvan is die Tempel van Quetzalcoatl, wat deur woonstelle van die hoër klas omring is.

Die Ciudadela, aan die teenoorgestelde punt van die Laan van die Dooies as die Maanpiramide.
Die Ciudadela, aan die teenoorgestelde punt van die Laan van die Dooies as die Maanpiramide.
Die Laan van die Dooies, en die Son- en Maanpiramide
Die Laan van die Dooies, en die Son- en Maanpiramide

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Teotihuacan Valley" [Teotihuacan Valley] (in English). Mexican Routes. 30 Desember 2024. Besoek op 30 Desember 2024.{{cite news}}: AS1-onderhoud: onerkende taal (link)
  2. "Pre-Hispanic City of Teotihuacan | Whizzed Net". www.whizzed.net. 28 Oktober 2023. Besoek op 4 November 2023.
  3. Centre, UNESCO World Heritage. "Pre-Hispanic City of Teotihuacan". UNESCO World Heritage Centre (in Engels). Besoek op 14 September 2024.
  4. 1 2 3 "Teotihuacan". Heilbrunn Timeline of Art History. Department of Arts of Africa, Oceania, and the Americas, The Metropolitan Museum of Art. Maart 2024.
  5. Millon, p. 18.
  6. Millon, p. 17, wat sê dit was die sesde grootste stad in 600 v.C.
  7. SPENCE, MICHAEL W.; WHITE, CHRISTINE D.; RATTRAY, EVELYN C.; LONGSTAFFE, FRED J. (2006-12-31), "Past Lives in Different Places", Settlement, Subsistence, and Social Complexity (Cotsen Institute of Archaeology Press): pp. 155–197, doi:10.2307/j.ctvdjrqh6.9, http://dx.doi.org/10.2307/j.ctvdjrqh6.9, besoek op 2022-02-22
  8. Price, T.Douglas; Manzanilla, Linda; Middleton, William D. (Oktober 2000). "Immigration and the Ancient City of Teotihuacan in Mexico: a Study Using Strontium Isotope Ratios in Human Bone and Teeth". Journal of Archaeological Science. 27 (10): 903–913. Bibcode:2000JArSc..27..903P. doi:10.1006/jasc.1999.0504. ISSN 0305-4403.
  9. Centre, UNESCO World Heritage. "Pre-Hispanic City of Teotihuacan". whc.unesco.org (in Engels). Besoek op 8 Februarie 2018.
  10. "¿Cuáles son las zonas arqueológicas más visitadas en México?" (in Spaans). POSTA. Januarie 2021. Besoek op 17 April 2025.
  11. Archaeology of Native North America by Dean R. Snow.
  12. Millon (1993), p. 34.
  13. Mathews and Schele (1997, p. 39)
  14. "Mexico's Teotihuacan ruins may have been Teohuacan". National Post. 23 Januarie 2018. Besoek op 24 Januarie 2018.
  15. Parsons, Jeffrey R. (1974). "The Development of a Prehistoric Complex Society: A Regional Perspective from the Valley of Mexico". Journal of Field Archaeology. 1 (1/2): 81–108. doi:10.2307/529707. ISSN 0093-4690. JSTOR 529707.
  16. 1 2 3 4 5 Nichols, Deborah L. (2016). "Teotihuacan". Journal of Archaeological Research. 24 (1): 1–74. doi:10.1007/s10814-015-9085-0. ISSN 1059-0161. JSTOR 43956797. S2CID 254607946.
  17. "Teotihuacan: Pyramids of the Sun and the Moon". www.metmuseum.org. Oktober 2001. Besoek op 11 Maart 2020.
  18. 1 2 Cowgill, George L. (1997). "State and Society at Teotihuacan, Mexico". Annual Review of Anthropology. 26: 129–161. doi:10.1146/annurev.anthro.26.1.129. ISSN 0084-6570. JSTOR 2952518.
  19. 1 2 Graeber, David and Wengrow, David "The Dawn of Everything, A New History of Humanity" (New York: Farrar, Straus and Giroux, 2021), pp. 342–343
  20. 1 2 Sanders, William T.; Webster, David (1988). "The Mesoamerican Urban Tradition". American Anthropologist. 90 (3): 521–546. doi:10.1525/aa.1988.90.3.02a00010. ISSN 0002-7294. JSTOR 678222.
  21. Luján, Leonardo López; Nadal, Laura Filloy; Fash, Barbara W.; Fash, William L.; Hernández, Pilar (2006). "The Destruction of Images in Teotihuacan: Anthropomorphic Sculpture, Elite Cults, and the End of a Civilization". RES: Anthropology and Aesthetics. 49–50 (49/50): 12–39. doi:10.1086/RESvn1ms20167692. ISSN 0277-1322. JSTOR 20167692. S2CID 193625763.
  22. 1 2 3 Pollard, Elizabeth; Rosenberg, Clifford; Tignor, Robert (2015). Worlds Together Worlds Apart Volume 1 Concise Edition. New York: W.W. Norton & Company. p. 292. ISBN 978-0-393-91847-2.
  23. Secrets of the Dead, episode Teotihuacan's Lost Kings, PBS, 30 October 2018
  24. "Teotihuacan". 23 Junie 2023.
  25. Millon (1993), p. 24.
  26. Graeber, David and Wengrow, David "The Dawn of Everything, A New History of Humanity" (New York: Farrar, Straus and Giroux, 2021), pp. 330–332
  27. Stuart, David (12 Mei 2014). "Naachtun's Stela 24 and the Entrada of 378". Maya Decipherment.
  28. Fiallos, Maria (2006). Honduras and the Bay Islands (in Engels). Hunter Publishing, Inc. ISBN 9781588436023.
  29. Carmack, Robert M.; Gasco, Janine L.; Gossen, Gary H. (8 Januarie 2016). The Legacy of Mesoamerica: History and Culture of a Native American Civilization (in Engels). Routledge. ISBN 9781317346791.
  30. Braswell (2003, bl. 7)
  31. "Mexico's Pyramid of Death". National Geographic]. 2006. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Januarie 2008. Besoek op 26 Februarie 2008.
  32. "Sacrificial Burial Deepens Mystery At Teotihuacan, But Confirms The City's Militarism". ScienceDaily. 2004. Besoek op 26 Februarie 2008.
  33. Sien byvoorbeeld Cheek (1977, passim.), wat argumenteer dat baie van Teotihuacán se invloed voortspruit uit direkte militaristiese verowering.
  34. Sien Laporte (2003, bl. 205); Varela Torrecilla en Braswell (2003, bl. 261).
  35. Braswell (2003, bl. 11)
  36. Braswell (2003, bl. 11); vir die ontleding by Tikal, sien Laporte (2003, bl. 200–205)
  37. Davies, bl. 78.
  38. 1 2 Manzanilla, LR (2015). "Cooperation and tensions in multiethnic corporate societies using Teotihuacan, Central Mexico, as a case study". Proc Natl Acad Sci U S A. 112 (30): 9210–5. Bibcode:2015PNAS..112.9210M. doi:10.1073/pnas.1419881112. PMC 4522775. PMID 25775567.
  39. Manzanilla L. (2003) The abandonment of Teotihuacan. The Archaeology of Settlement Abandonment in Middle America, Foundations of Archaeological Inquiry, reds. Inomata T, Webb RW (Univ of Utah Press, Salt Lake City), pp 91–101/
  40. "Cultura Teotihuacana". www.historiacultural.com. Besoek op 16 September 2017.
  41. Kaufman (2001, bl. 4)
  42. Snow, Dean R. (2010). Archaeology of Native North America. Prentice Hall. p. 156.
  43. 1 2 Grove, David (Maart 1994). "Art, Ideology, and the City of Teotihuacan: A Symposium at Dumbarton Oaks, 8th and 9th October 1988 . Janet Catherine Berlo". American Anthropologist. 96 (1): 215–216. doi:10.1525/aa.1994.96.1.02a00570. ISSN 0002-7294.
  44. Nichols, Deborah L. (Maart 2016). "Teotihuacan". Journal of Archaeological Research (in Engels). 24 (1): 1–74. doi:10.1007/s10814-015-9085-0. ISSN 1059-0161. S2CID 254607946.
  45. Cowgill, George L. (21 Oktober 1997). "State and Society at Teotihuacan, Mexico". Annual Review of Anthropology. 26 (1): 129–161. doi:10.1146/annurev.anthro.26.1.129. ISSN 0084-6570.
  46. 1 2 3 4 Cowgill, George L. (2001), Central Mexico Classic, Springer US, pp. 12–21, doi:10.1007/978-1-4615-0525-9_2, ISBN 978-1-4684-7132-8
  47. Miller, Arthur G. (1973). The mural painting of Teotihuacán. Washington, D.C.: Trustees for Harvard University. ISBN 9780884020493. Besoek op 31 Augustus 2022.
  48. Berrin, Kathleen (1988). Feathered serpents and flowering trees : reconstructing the murals of Teotihuacán (in Engels). San Francisco: Fine Arts Museums of San Francisco. ISBN 9780295967035. Besoek op 31 Augustus 2022.
  49. Langley, James C. (1986). Symbolic notation of Teotihuacan : elements of writing in a Mesoamerican culture of the classic period. Oxford, England: B.A.R Publishing. ISBN 9780860544005. Besoek op 31 Augustus 2022.
  50. 1 2 3 4 5 6 7 Manzanilla, Linda R. (16 Maart 2015). "Cooperation and tensions in multiethnic corporate societies using Teotihuacan, Central Mexico, as a case study". Proceedings of the National Academy of Sciences. 112 (30): 9210–9215. Bibcode:2015PNAS..112.9210M. doi:10.1073/pnas.1419881112. ISSN 0027-8424. PMC 4522775. PMID 25775567.
  51. Miller & Taube, pp. 162–63.
  52. In plaas van "Stormgod" noem Miller en Taube hierdie godheid "Tlaloc", die naam van die veel later Asteekse stormgod. Coe (1994), p. 101, gebruik dieselfde term. Die gebruik van Nahuatl-Asteekse name om na Teotihuacán-godhede te verwys, het egter afgeneem (sien Berlo, p. 147).
  53. In plaas van "die Geveerde Slang" noem Miller en Taube hom "Quetzalcoatl", die naam van die veel later Asteekse geveerde slanggod.
  54. Sugiyama (1992), p. 220.
  55. "Pulque" (Internetwoordeboek). WAT. viva-afrikaans.org. Besoek op 7 November 2025.
  56. 1 2 Pasztory (1997), p. 84.
  57. Pasztory (1997), pp. 83–84.
  58. Cowgill (1997), p. 149. Pasztory (1992), p. 281.
  59. Sugiyama, p. 111.
  60. Manzanilla, Linda (1993). Berrin, Kathleen; Pasztory, Esther (reds.). Teotihuacan : art from the city of the gods. New York, New York: Thames and Hudson. p. 95. ISBN 978-0500277676.
  61. Coe (1994), p. 98.
  62. Sugiyama: 109, 111
  63. Birmingham Museum of Art (2010). Birmingham Museum of Art : guide to the collection. Birmingham, AL: Birmingham Museum of Art. p. 83. ISBN 978-1-904832-77-5.
  64. Pasztory (1993), p. 54.
  65. "'Astounding new finds' suggest ancient empire may be hiding in plain sight". www.science.org (in Engels). Besoek op 30 April 2023.
  66. Spence, Michael W. (1967). "The Obsidian Industry of Teotihuacan" (PDF). American Antiquity. 32 (4): 507–514. doi:10.2307/2694078. JSTOR 2694078. S2CID 54083199.
  67. Spence, Michael W. (1981). "Obsidian Production and the State in Teotihuacan" (PDF). American Antiquity. 46 (4): 769–788. doi:10.2307/280105. JSTOR 280105. S2CID 164044287.
  68. Cartwright, Mark (24 Augustus 2022). "Obsidian in Mesoamerica". World History Encyclopedia.
  69. "Tunnel under Pyramid of the Feathered Serpent under exploration in 2010". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 September 2012. Besoek op 24 November 2021.{{cite web}}: CS1 maint: bot: original URL status unknown (link)
  70. Bueno, The Pursuit of Ruins, pp. 80, 192–95,
  71. Bueno, The Pursuit of Ruins, pp. 199–200.
  72. Bueno, The Pursuit of Ruins, 206–207.
  73. Linné, Sigvald (2003). Archaeological Researches at Teotihuacan, Mexico. Tuscaloosa: University of Alabama Press. p. xiii. ISBN 9780817350055.
  74. Acosta, Jorge R. "Archaeological Explorations in Teotihuacan." Artes De México, no. 134 (1970): 11–18. Accessed September 13, 2020. http://www.jstor.org/stable/24316098.
  75. Heyden (1975, p. 131)
  76. Šprajc (2000), p. 410
  77. 1 2 3 4 National Institute of Anthropology and History (INAH), Mexico. Press release, 3 Augustus 2010. Teotihuacan tunnel – entrance located. Archaeologists Locate the Entrance to Teotihuacan Tunnel, Universes in Universe – Worlds of Art, 3 Augustus 2010
  78. 1 2 3 4 5 6 7 8 Matthew Shaer, Janet Jarman (photos). A Secret Tunnel Found in Mexico May Finally Solve the Mysteries of Teotihuacán, Smithsonian Magazine, Junie 2016
  79. 1 2 3 4 5 6 Paul Laity. Lakes of mercury and human sacrifices – after 1,800 years, Teotihuacan reveals its treasures, The Guardian, 24 September 2017 18.52 BST
  80. 1 2 De Young Museum. Teotihuacan: City of Water, City of Fire. De Young Museum, September 30, 2017 – February 11, 2018, De Young Museum, 2017
  81. The Associated Press. Experts: Ancient Mexicans crossbred wolf-dogs, Phys.org (Science X network), 16 Desember 2010
  82. Deutsche Presse-Agentur GmbH. Tunnel found under temple in Mexico, Phys.org (Science X network), 30 Mei 2011
  83. 1 2 First Images of the Interior of Teotihuacan Tunnel Captured by Camera on Small Robot, ArtDaily, 12 November 2010
  84. 1 2 3 Rossella Lorenzi. Robot finds mysterious spheres in ancient temple, NBCNews.com, 30 April 2013
  85. Alan Yuhas. Liquid mercury found under Mexican pyramid could lead to king's tomb, The Guardian, 24 April 2015
  86. Gershon, Livia. "1,800-Year-Old Flower Bouquets Found in Tunnel Beneath Teotihuacán Pyramid". Smithsonian Magazine (in Engels). Besoek op 31 Augustus 2021.
  87. "Nearly intact 1,800-year-old bouquets of flowers found in Teotihuacan". Arkeonews (in American English). 14 Augustus 2021. Besoek op 31 Augustus 2021.
  88. "1,800-Year-Old Flower Bouquets Found in Tunnel Beneath Teotihuacán Pyramid". MadGhosts (in American English). 27 Augustus 2021. Besoek op 31 Augustus 2021.
  89. "Calzada de los Muertos. Zona arqueológica de Teotihuacan". pueblosoriginarios.com. Besoek op 16 September 2017.
  90. Šprajc, Ivan (2000). "Astronomical alignments at Teotihuacan, Mexico". Latin American Antiquity. 11 (4): 406. doi:10.2307/972004. JSTOR 972004. S2CID 55054050.
  91. Šprajc, Ivan (2018). "Astronomy, Architecture, and Landscape in Prehispanic Mesoamerica". Journal of Archaeological Research. 26 (2): 197–251. doi:10.1007/s10814-017-9109-z. S2CID 149439162.
  92. Šprajc, Ivan (2000). "Astronomical alignments at Teotihuacan, Mexico". Latin American Antiquity. 11 (4): 403–415. doi:10.2307/972004. JSTOR 972004. S2CID 55054050.
  93. Aveni, Anthony (2001). Skywatchers. VSA: University of Texas Press. p. 223.

Verdere leesstof

[wysig | wysig bron]
  • (en) Berrin, Kathleen; Esther Pasztory (1993). Teotihuacan: Art from the City of the Gods. New York: Thames and Hudson. ISBN 0-500-23653-4. OCLC 28423003.
  • (en) Cowgill, George (1997). "State and Society at Teotihuacan, Mexico" (PDF aanlyn-reproduksie). Annual Review of Anthropology. 26 (1). Palo Alto, CA: Annual Reviews Inc.: 129–161. doi:10.1146/annurev.anthro.26.1.129. OCLC 202300854.
  • (en) Millon, René (1993). "The Place Where Time Began: An Archaeologist's Interpretation of What Happened in Teotihuacan History". In Berrin, Kathleen; Esther Pasztory (reds.). Teotihuacan: Art from the City of the Gods. New York: Thames and Hudson. pp. 16–43. ISBN 0-500-23653-4. OCLC 28423003.
  • (en) Sugiyama, Saburo (2003). Governance and Polity at Classic Teotihuacan; in Julia Ann Hendon, Rosemary A. Joyce, "Mesoamerican archaeology". Wiley-Blackwell.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Vlag van Meksiko Geskiedenis van Meksiko Wapen van Meksiko
Meso-AmerikaOlmekeMixtekeToltekeTeotihuacáneZapotekeMajaTlaxcaltekeAsteke
KolonisasieSpaanse verowering van die Asteekse Ryk (1519–1521) • Spaanse verowering van Yucatan (1527–1697) • Nieu-Spanje (1535–1821) • Meksikaanse Onafhanklikheidsoorlog (1810–1821)
1821–1864Eerste Meksikaanse Keiserryk (1821–1823) • Texaanse Onafhanklikheidsoorlog (1835–1836) • Koekoorlog (1838) • Meksikaans-Amerikaanse Oorlog (1846–1848) • Kasteoorlog (1847–1901) • Hervormingsoorlog (1857–1861) • Franse inval in Meksiko (1861–1867)
1864–1929Tweede Meksikaanse Keiserryk (1864–1867) • Meksikaanse Rewolusie (1910–1920) • Cristero-oorlog (1926–1929)
Moderne geskiedenisChiapas-konflik (1994) • Dwelmoorlog in Meksiko (2006–hede)