Drusus die ouere

Nero Claudius Drusus (38 v.C. — 9 v.C.), algemeen bekend as Drusus die ouere, was 'n bekende Romeinse generaal, die stiefseun van Keiser Augustus, en 'n prominente lid van die Julio-Claudiese dinastie. Hy is veral bekend vir sy aanvoering van groot Romeinse militêre veldtogte om Germaanse gebiede oos van die Rynrivier te verower. Dié belowende loopbaan as Romeinse militaris is egter deur sy oorlye op jong ouderdom kortgeknip, en dit is aan sy broer Tiberius oorgelaat om 'n mate van beheer oor Germanië te herstel.
Herkoms
[wysig | wysig bron]Drusus is in 38 v.C. in Rome gebore, die jongste seun van Livia Drusilla en Tiberius Claudius Nero, wat wettiglik as sy vader verklaar is voordat die egpaar geskei het. Toe sy moeder met Augustus getrou het, het Drusus en sy ouer broer, die toekomstige Keiser Tiberius, Augustus se stiefseuns geword.
Drusus is tussen middel Maart en middel April 38 v.C. gebore, drie maande nadat Livia op 17 Januarie met Augustus getroud is.[1] Gerhard Radke het die datum van 28 Maart as sy mees waarskynlike verjaarsdag of dies natali voorgestel,[2] terwyl Lindsay Powell Ovidius se Fasti interpreteer as die datum van 13 Januarie.[3] Gerugte het ontstaan dat Augustus die kind se regte vader was, hoewel onmoontlik aangesien Livia reeds swanger was toe sy haar toekomstige man ontmoet het. Keiser Claudius het nietemin die gerug tydens sy bewind aangemoedig om 'n indruk van meer direkte afstamming van Augustus te skep.
Drusus is in Claudius Nero se huis grootgemaak saam met sy broer, die toekomstige keiser Tiberius, tot die dood van sy wettige vader. Die twee broers het 'n bekende noue verhouding ontwikkel wat die res van hul lewens sou duur. Tiberius het sy oudste seun aldus na sy broer vernoem, hoewel oudste seuns gewoonlik na hul vader of oupa vernoem is. Drusus het weer sy tweede seun (toekomstige keiser Claudius) na Tiberius vernoem.
Huwelik
[wysig | wysig bron]
Drusus het met Antonia die jongere getrou. Sy was 'n dogter van Markus Antonius en Augustus se suster, Octavia die jongere, en Drusus was vir sy getrouheid aan haar bekend.[4] Hul kinders het die gevierde generaal Germanicus en die toekomstige Keiser Claudius ingesluit. Deur hulle was Drusus die grootvader van Keiser Caligula en die oupagrootjie van Keiser Nero. Hul dogter was Livilla, "klein Livia" genoem, en minstens twee ander kinders sou nie tot volwassenheid oorleef nie.[5] Antonia sou Drusus vir byna vyf dekades oorleef, maar het nooit weer getrou nie.
Loopbaan
[wysig | wysig bron]Drusus was 'n bekwame en gewilde bevelvoerder wat sy militêre loopbaan danksy Augustus se beskerming vroeg begin het. In 15 v.C. het hy en sy broer Tiberius suksesvol veldtogte gevoer om Alpynse stamme te onderwerp en Rome se noordelike grens te beveilig. Van 12 v.C. tot 9 v.C. het hy 'n reeks ambisieuse veldtogte na Germanië aangevoer, waar hy land- sowel as vlootmagte gebruik het om Romeinse beheer van die Ryn tot aan die Elberivier te bevorder.
In Gallië en Germanië het hy oor belangrike infrastruktuurprojekte toesig gehou, insluitend die konstruksie van talle forte en die Fossa Drusiana, 'n kanaal om die Ryn met die Noordsee te verbind.
By sy soldate en die Romeinse volk was Drusus baie gewild. Hy is vir die jaar 9 v.C. tot konsul verkies, 'n bewys van sy hoë aansien. Sommige bronne dui daarop dat hy republikeinse simpatieë gekoester het en as 'n potensiële opvolger van Augustus beskou is wat die Republiek kon herstel, maar sy vroeë dood sou dit verhoed.
Sy veldtogte is in die somer van 9 v.C. kortgeknip toe hy op die ouderdom van 29 oorlede is aan beserings wat hy in 'n perdry-ongeluk in Germania opgedoen het. Sy liggaam is deur sy bedroefde broer Tiberius na Rome teruggebring, en hy is in die Mausoleum van Augustus begrawe. Die Senaat het hom postuum die eretitel Germanicus ("veroweraar van Germania") toegeken, wat sy seuns geërf het. Met Drusus se ontydige dood is Romeinse uitbreiding na Noord-Europa vertraag. Dié verlies aan momentum sou 'n voorspel word tot die rampspoedige Slag by die Teutoburgerwoud enkele jare daarop, wat die Ryn as die permanente grens van die Romeinse Ryk gevestig het.
Germaanse offensiewe
[wysig | wysig bron]Van 14 v.C. af het Drusus 'n reeks militêre basisse langs die Ryn gebou —volgens Florus 'n vyftigtal— en 'n alliansie met die Batavi gesluit ter voorbereiding vir militêre optrede in Germania Libera.[6] Hy het waarskynlik sewe legioene onder sy bevel gehad.[7]
In die lente van 12 v.C. het hy 'n ekspedisiemag ontplooi, moontlik bestaande uit die Legiones I Germanica en V Alaudae, per skip uit die omgewing van hedendaagse Nijmegen, deur gebruik te maak van een of meer kanale wat hy vir die doel gebou het.[6] Drusus het na die monding van die Eems geseil en die gebied van die Chauci, tans Nedersakse, binnegedring.[6] Die Chauci het 'n verdrag gesluit wat die Romeinse oppergesag erken, en sou vir jare bondgenote van Rome bly.[6] Terwyl hulle hul opvaart met die Eems voorgesit het, is die Romeine deur die Bructeri in bote aangeval.[6] Drusus se magte het die Bructeri verslaan, maar aangesien dit nou laat in die veldtogseisoen was, het hulle na hul winterkwartiere in Gallië teruggetrek en die voordeel van hul nuwe alliansie met die Frisii benut om die moeilike toestande van die Noordsee aan te durf.[6]
As beloning vir die welslae van sy veldtog in 12 v.C., is Drusus vir 11 v.C. tot praetor urbanus aangestel toe hy vir die winter na Rome teruggekeer het.[8] Nuus oor Drusus se prestasies om die Noordsee te navigeer, die Romeinse arende na nuwe gebied te dra, en nuwe volke tot verdragsverhoudinge met Rome te verbind, het aansienlike opwinding in Rome veroorsaak en is op muntstukke gedenk.[8]
In die lente van sy termyn as praetor urbanus het hy nogmaals na die Germaanse grens vertrek. Hierdie keer het hy 'n mag saamgestel wat uit 'n volle of 'n deel van vyf legioene bestaan het, benewens hulptroepe, wat vanuit Vetera aan die Ryn vertrek en langs die Lipperivier opmarsjeer het. Hier het hy die Tencteri en Usipetes teëgekom, wat hy in twee afsonderlike gevegte verslaan het.[9] Hy het die Werra-vallei bereik voordat hy besluit het om vir die seisoen terug te keer, aangesien die winter aangebreek, voorrade afgeneem het, en die voortekens ongunstig was.[6] Terwyl sy magte hul pad terug deur die gebied van die Cherusci gebaan het, het voorgenoemde stam 'n hinderlaag vir hulle by Arbalo gelê.[6] Die Cherusci het misluk om hul aanvanklike voordeel te benut, waarop die Romeine deur hul linies gebreek het, die Germaanse aanvallers verslaan het en Drusus as imperator uitgeroep het.[6] Om sy voortgesette bemeestering van die grond te toon, het Drusus vir die winter van 11–10 v.C. 'n aantal wintervestings binne Germanië opgerig, insluitend een iewers in Hesse[10] en een in Cheruscaanse gebied, waarskynlik óf die kamp te Haltern, óf dié te Bergkamen-Oberaden,[6] albei in die huidige Noordryn-Wesfale.
Hy het vir 'n tyd by sy vrou Antonia en twee kinders in Lugdunum aangesluit voordat die gesin na Rome teruggekeer het, waar Drusus aan Augustus verslag gedoen het.[10] Drusus is die eer van 'n ovasie gegee, en vir die derde keer het Augustus die deure van die Tempel van Janus gesluit, wat beteken het dat die hele Romeinse wêreld toe in vrede was.[11][12]

Drusus is die amp van prokonsul vir die volgende jaar toegeken. In 10 v.C. het die Chatti by die Sicambri aangesluit en Drusus se kamp aangeval, maar hulle is teruggedryf. Drusus het hulle agternagesit vanuit die liggings van huidige Mainz en Rödgen, waar hy 'n voorraadbasis opgerig het, na Hedemünden, waar 'n sterk nuwe kamp opgerig is.[13]
Omstreeks hierdie tyd het die geslepe Marcomanni-koning Maroboduus op die Romeinse inval gereageer deur sy hele bevolking na Boheme te verskuif.[14] In die somer van 10 v.C. het Drusus die veld verlaat om na Lugdunum terug te keer, waar hy op 1 Augustus te Condate die heiligdom van die Drie Galliese provinsies ingewei het.[15] Augustus en Tiberius was vir hierdie geleentheid in Lugdunum (toe Drusus se jongste seun Claudius gebore is), waarop Drusus hulle terug na Rome vergesel het.[16]
Drusus het die verkiesing as konsul vir die jaar 9 v.C. met gemak op hom verenig,[17] maar sou die stad weereens verlaat voordat hy die amp aanvaar. Sy konsulskap het aan Drusus die kans gebied om Rome se hoogste en mees seldsame militêre eer te verwerf, naamlik die spolia opima, oftewel die buit van 'n vyandelike hoofman wat in persoonlike hoedanigheid deur 'n opponerende Romeinse generaal om die lewe gebring is, en wat (soos konsuls gedoen het) onder slegs sy eie beskerming geveg het.[18] Hy het spoedig na die veld teruggekeer, verpoos om met sy personeel by Lugdunum te beraadslaag en 'n tempel by Andemantunnum aan Caesar Augustus gewy het, voordat hy weer by sy bevel te Mainz aangesluit het, waarvandaan die jaar se ekspedisie vroeg in die lente vertrek het.[19] Drusus het die leër via Rödgen deur die gebiede van die Marsi en Cherusci gelei totdat hy selfs die rivier Elbe oorgesteek het.[20] Hier word gesê dat hy 'n verskyning van 'n Germaanse vrou gesien het wat hom daarteen gewaarsku het om verder te gaan en dat sy dood op hande was. Drusus het teruggedraai[21] en 'n trofee ter herdenking van sy bereiking van die Elbe opgerig, miskien op die ligging van Dresden of Magdeburg.[22]
Drusus het verskeie Germaanse (minstens drie) hoofmanne tydens sy veldtogte in Duitsland (12 v.C. tot 9 v.C.) opgesoek en hulle in "verbluffende vertonings van enkelgevegte" betrek.[14] Die bronne is dubbelsinnig, maar dui daarop dat hy moontlik die spolia opima van 'n Germaanse koning kon geneem het en sodoende die vierde en laaste Romein sou word om hierdie eer te verwerf.[23] Ongeag of hy hulle werklik in 'n geveg kon neem, sou Drusus se afsterwe nietemin verhoed dat hy die amptelike seremonie ooit kon aflê. Na Drusus se dood het Augustus veral die louere van sy fasces nie in die Tempel van Jupiter Optimus Maximus neergelê soos hy in die verlede gedoen het nie, maar wel in die Tempel van Jupiter Feretrius. J.W. Rich stel voor dat hierdie aksie gedoen is om Drusus se nagedagtenis te benadruk; as die jong bevelvoerder geleef het, sou hy self spolia opima in die tempel geplaas het.[24]
Oorlye
[wysig | wysig bron]
Drusus is tydens sy Germaanse veldtogte in 9 v.C. oorlede, volgend op 'n beduidende oorwinning wat hy hierdie jaar by die Elberivier behaal het. Die voorval het waarskynlik in September of Oktober plaasgevind, en hoewel die presiese ligging gedebatteer word, blyk dit in Germanië te gewees het. Ongeveer 'n maand nadat Drusus 'n beenbreuk tydens 'n val van sy perd opgedoen het, sterf hy by 'n ligging wat sommige historici as die geheimsinnige en tans onopgespoorde castra scelerata of "vervloekte kamp" aandui. Sy broer Tiberius het hom oor honderde kilometer te perd te hulp gesnel, en hom steeds lewend gevind. Drusus sterf egter, en die dusver suksesvolle veldtogte teen Germaanse stamme word hierdeur kortgeknip. Nadat sy oorskot by Mogontiacum arriveer het die troepe 'n senotaaf vir hom opgerig, waarvan die aansienlike Drusussteen vandag nog besigtig kan word. Drusus se nagedagtenis is later hoog gevier en geëer, veral tydens die bewind van sy seun, keiser Claudius.
Die ander Drusus
[wysig | wysig bron]Drusus die jongere, oftewel Drusus Julius Caesar, was die seun van Tiberius, wat baie later (23 n.C.) onder verdagte omstandighede oorlede is, met gerugte van vergiftiging deur sy vrou, Livilla, op aanstigting van Sejanus.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Donna W. Hurley, Suetonius: Divus Claudius (Cambridge University Press, 2001), p. 106
- ↑ By Divus Claudius 11.3, sê Suetonius dat Claudius as keiser die verjaardag (dies natalis) van sy vader Drusus op dieselfde datum as dié van Markus Antonius, sy grootvader aan moederskant, wie se verjaardag op 14 Januarie, ca. 83 v.C., is deur Augustus (Cassius Dio 51.9.3) as 'n "gebrekkige" dag of dies vitiosus verklaar. Aangesien Drusus se geboorte egter ook aangeteken word as binne die derde maand na Livia se huwelik met Augustus op 17 Januarie, stel Radke voor dat Claudius die astronomiese verskille tussen die voor-Juliaanse kalender waaronder Antonius gebore is en die Juliaanse kalender wat ten tyde van Drusus se geboorte van krag was, gebruik het om aan te toon dat as die twee onder dieselfde kalender gebore was, hulle 'n verjaardag sou gedeel het. Gilbert Rodke (1978), "Der Geburtstag des älteren Drusus," Würzburger Jahrbücher für die Altertumswissenschaft 4 (1978), pp. 211–13. Na 'n oorsig van hierdie teorieë, beskou Anthony A. Barrett 14 Januarie steeds as die mees waarskynlike geboortedatum, en verduidelik die oënskynlike verskil van drie maande as verwysend na Livia se verlowing, en nié haar huwelik nie.(Barrett 2002)
- ↑ Powell (2011), p. 3.
- ↑ Valerius Maximus, Factorum ac dictorum memorabilium libri IX IV.3.3 (Latynse teks). Aangehaal in Powell (2011), p. 91.
- ↑ Kokkinos, Nikos (1992). Antonia Augusta: Portrait of a Great Roman Lady. Psychology Press. p. 11. ISBN 9780415080293.
- 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 Powell (2011).
- ↑ Dit was, volgens Powell (2011), p. 61, Legiones I Germanica, V Alaudae, XIII Gemina, XIV Gemina, XIV Gemina XIV, XVI Gallica, XVII, XVIII en XIX (die laaste drie is naamlik dié wat later uitgewis sou word terwyl hulle onder Varus se bevel was).
- 1 2 Powell (2011), p. 79.
- ↑ Powell (2011), p. 81. Die tersaaklike legioene was die I Germanica, die V Alaudae, die XVII, die XVIII, en die XIX.
- 1 2 Powell (2011), p. 91.
- ↑ Gaius Stern, Women, Children, and Priests on the Ara Pacis Augustae (2006 Berk. diss.) Hoofstuk 2, 4, 9, gevolg deur Powell, et. al. Let daarop dat Augustus die Janustempel reeds in 29, en weer in 25 v.C. gesluit het, voor hierdie sluiting in 13/12 v.C.
- ↑ Powell (2011), p. 92.
- ↑ Powell (2011), pp. xxvii, 93.
- 1 2 Powell (2011), p. 94.
- ↑ Powell (2011), p. 97.
- ↑ Powell (2011), p. 99.
- ↑ Powell (2011), p. 100.
- ↑ Powell (2011), p. 95.
- ↑ Powell (2011), p. 102.
- ↑ Powell (2011), pp. 102–104.
- ↑ Powell (2011), p. 104.
- ↑ Powell (2011), p. 105.
- ↑ Powell (2011), p. 96 en aantekening 155 op bl. 199, met verwysing na Suetonius Claudius I.4.
- ↑ Rich, J.W., "Drusus and the Spolia Opima." The Classical Quarterly, band 49, nr. 2, 1999, pp. 544–55. Sjabloon:JSTOR. Nagegaan op 10 Augustus 2020.
Bronne
[wysig | wysig bron]- Barrett, Anthony A. (2002). Livia: First Lady of Rome. New Haven: Yale University Press. ISBN 0-300-09196-6.
- Osgood, Josiah (2011). Claudius Caesar: Image and Power in the Early Roman Empire. Cambridge, Engeland: Cambridge University Press. ISBN 978-0-521-88181-4.
- Powell, Lindsay (2011). Eager for Glory: The Untold Story of Drusus the Elder, Conqueror of Germania. Barnsley, South Yorkshire: Pen & Sword Books. ISBN 978-1-84884-333-2.
- Rich, J.W. “Drusus and the Spolia Opima.” The Classical Quarterly, band 49, nr. 2, 1999, pp. 544–555. Sjabloon:JSTOR