Gaan na inhoud

Jürgen Habermas

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jürgen Habermas
Gebore (1929-06-18)18 Junie 1929
Düsseldorf, Pruise, Republiek van Weimar
Oorlede 14 Maart 2026 (op 96)
Nasionaliteit Vlag van Duitsland Duitsland
Vakgebied Sosiale teorie, epistemologie, politieke teorie, pragmatiek
Beïnvloed deur Weber, Durkheim, Mead, Marx, Dilthey, Talcott Parsons, Kant, Hegel, Heidegger, Piaget, Horkheimer, Adorno, Marcuse, Wittgenstein, Peirce, Austin, Wolfgang Abendroth
Invloed op Claus Offe, Honneth, Hoppe
Toekennings Erasmusprys
Handtekening

Jürgen Habermas (* 18 Junie 192914 Maart 2026) was 'n Duitse filosoof en sosioloog wat as een van die invloedrykste denkers van die laat twintigste en vroeë een-en-twintigste eeu beskou word. Hy het hoofsaaklik in die tradisie van Kritiese Teorie gewerk en was ’n prominente figuur van die tweede generasie van die Frankfurt Skool, ná denkers soos Theodor W. Adorno en Max Horkheimer. Habermas het ’n sentrale rol gespeel in die ontwikkeling van moderne sosiale en politieke filosofie, veral deur sy ontleding van demokrasie, kommunikasie en rasionaliteit.

Hy was die outeur van meer as dertig filosofiese en sosiaal-teoretiese werke en het internasionale bekendheid verwerf met sy invloedryke teorie van kommunikatiewe handeling, waarin hy aangevoer het dat rasionele dialoog en wedersydse begrip die grondslag van ’n demokratiese samelewing vorm. Sy monumentale werk The Theory of Communicative Action het ’n nuwe raamwerk geskep vir die verstaan van moderne samelewings deur die verhouding tussen kommunikasie, mag en sosiale integrasie te ondersoek.

Habermas het ook ’n belangrike bydrae gelewer tot die studie van die publieke sfeer, ’n begrip wat hy sistematies ontwikkel het in sy vroeë werk The Structural Transformation of the Public Sphere. In hierdie werk beskryf hy hoe burgerlike debat en openbare argumentasie in moderne samelewings ontwikkel het, en hoe ekonomiese en politieke magstrukture hierdie sfeer oor tyd begin beïnvloed en beperk het.

Gedurende sy akademiese loopbaan was Habermas verbonde aan verskeie universiteite in Duitsland en internasionaal, en hy het ’n groot invloed uitgeoefen op velde soos politieke filosofie, sosiologie, kommunikasieteorie en regsfilosofie. Hy was ook ’n prominente openbare intellektueel wat gereeld aan debatte oor Europese integrasie, demokrasie, grondwetlike orde en die rol van godsdiens in moderne samelewings deelgeneem het.

Habermas se werk het ’n diepgaande invloed gehad op kontemporêre politieke denke, veral in besprekings oor deliberatiewe demokrasie, menseregte en die normatiewe grondslag van demokratiese instellings. Hy word algemeen beskou as een van die belangrikste filosofiese stemme in die Europese intellektuele tradisie ná die Tweede Wêreldoorlog.

Lewensloop

[wysig | wysig bron]

Kort na sy geboorte vier die nasionaalsosialisme hoogty. Toe Hitler aan bewind kom (31 Januarie 1933), word hy vier jaar oud. Soos byna alle Duitse jeugdiges van dié tyd word hy lid van die Hitlerjugend (HJ). Die verslae van die oorlogsgebeure en die beelde van die konsentrasiekampe wat hy na die oorlog sien en hoor, staan in skrille kontras met die kleinburgerlikheid van sy geboortedorp. As gevolg hiervan verloor hy sy vertroue in "die mens". Die demokratisering na die oorlog en die herstel in die Duitse ekonomie het sy vertroue in die mensdom grootliks herstel. Habermas kom tot die gevolgtrekking dat die wêreld en die mens nie ten volle kan saamwerk nie, en dus in staat is tot beide al die goeie en al die slegte. Habermas noem 1945 as die jaar waarin hy "gebore" is.

Naas Duitse letterkunde en ekonomie bestudeer hy filosofie, geskiedenis en sielkunde aan die universiteite van Göttingen, Zürich en Bonn. Hy het aan die laaste universiteit gepromoveer. Later sluit hy saam met denkers soos Max Horkheimer en Theodor Adorno, van wie hy later ook 'n assistent sou word, by die Frankfurt Skool aan. Dit is bekend dat Horkheimer en Habermas op 'n stadium 'n gespanne verhouding gehad het. Habermas moes gevolglik sy habilitasie Strukturwandel der Öffentlichkeit (1962) in Marburg aflê. In 2005 word die Holbergprys en in 2013 die Erasmusprys aan Habermas toegeken.

Habermas se denke

[wysig | wysig bron]

Inleiding

[wysig | wysig bron]

Die denke van Habermas is gefokus op die terrein tussen filosofie en sosiologie in die vorm van interaktiewe groepskritiek. Aangesien hy voortdurend aan die publieke debat deelneem, maak dit hom 'n invloedryke filosoof en gesaghebbende intellektueel in die na-oorlogse Duitsland. Hy stel aktuele vrae wat gaan oor die toekoms van die Europese Unie (EU), die relevansie van 'n wêreldregering, oor die rol van godsdiens in 'n sekulêre samelewing, en oor die moontlikheid en wenslikheid van 'n multi-kulturele regstelsel. Temas soos die politieke filosofie, die taalteorie, en vrae oor die ideale vorm van menslike kommunikasie kom voortdurend in Haberma se denkwêreld na vore.

Die filosofiese werk van Habermas kan in drie periodes opgedeel word, waarvan die laaste periode wel as die belangrikste geag kan word. In die eerste periode is sy werk Heideggeriaans georiënteerd. In sy proefskrif van 1954 met die tema Das Absolute und die Geschichte: Von der Zweispältigkeit in Schellings Denken ("Die absolute en die geskiedenis: oor die ambivalensie in Schelling se denke") stel hy dit dat die mens nie aktiwiteite uitsluitlik met tegnieke moet beheers nie, maar ook moet kennis neem en aktiwiteite hul loop moet laat neem.

Die tweede periode omvat die tydperk toe Habermas as assistent van Adorno optree in die Institut für Sozialforschung in Frankfurt. Hy staan 'n Karl Marx-gebaseerde praktiese filosofie voor, aangesien teoretiese interpretasies nie tot verandering lei wat maatskaplik relevant is nie. Laasgenoemde stel hy in 'n bundel sosiaal-filosofiese studies wat in 1963 onder die titel Theorie und Praxis verskyn, voor.

Die derde periode begin teen die einde van die 1960s, toe Habermas wêreldberoemd word met die verskyning van sy Technik und Wissenschaft als ‘Ideologie’ (1968). In dié werk staan die verhoudings tussen stelsels en die leefwêreld sentraal. In 'n kritiek op Karl Marx, wat die kapitalistiese stelsel in sy totaliteit beskou, maak Habermas onderskeid tussen enersyds 'n politieke-ekonomiese stelsel en andersyds 'n kommunikasie gerigte leefwêreld. Habermas begin in hierdie periode met sy ondersoek na die grondslae van die kritiese sosiale wetenskappe. Volgens hom het verskillende wetenskappe verskillende kennisbelange.

Plasing van sy denke

[wysig | wysig bron]

In die filosofiese tradisie is Habermas nie losstaande van die denke van die Frankfurt Skool of die kritiese teorie nie, waarvan Habermas 'n tweede generasie denker is. In die beginperiode was hy dus sensitief vir die invloede van die eerste generasie, verteenwoordig deur Theodor Adorno, Max Horkheimer, Georg Lukács, Karl Marx en later Herbert Marcuse. Die eerste generasie kritiseer die dialektiek van Georg Wilhelm Friedrich Hegel en sommiges keer dit selfs om, maar hy beskou dit krities. Soos die meeste na-oorlogse denkers wil hy die gruwels van die nasionaalsosialisme deurdink. Dit is egter nie moontlik met die dialektiek van Hegel nie, waarmee “Das Ganze das Wahre ist” (Die totale is die ware) handel. Sommige filosowe verwerp Hegel en die kollektiewe denke omdat die Nazi-regime daardeur gelegitimeer kon word. Deur die omkeer van Hegel se dialektiek maak die algemene plek vir die besondere, 'n maatskaplike proses wat gedurende die loop van die 20ste eeu plaasvind, in aansluiting met die filosofiese vernuwing wat dit voorafgaan. Alle "wilsfilosowe", soos Charles Darwin, Søren Kierkegaard, Friedrich Nietzsche en Arthur Schopenhauer is verteenwoordigers van hierdie filosofiese omkeer in die denke van die kollektief na die individu. Hierdie proses van individualisering skep die behoefte in die 20ste eeu om ook in die maatskaplike prosesse in te dring.

Vanaf die 1960s vind hy steeds meer sy eie kenmerkende filosofiese benadering, waartydens die beginperiode wel van waarde is, maar waar sy 'eie' latere filosofie nie af te lei is nie. Tydens sy vroeëre Heideggeriaanse en Marxistiese fases wil hy verskeie idees en filosowe verenig, onder wie Sigmund Freud, die idealisme van Hegel, die ordinary language philosophy van John Austin, Ludwig Wittgenstein en die pragmatisme van onder andere C.S. Peirce. Habermas breek deur die klassieke grense met sy werk en oorbrug so in sekere sin die skeiding tussen die kontinentale filosofie met outeurs soos Jacques Derrida, Michel Foucault en Hans-Georg Gadamer, en die analitiese filosofie met outeurs as Robert Brandom, Hilary Putnam en John Rawls.

Openbaree sfeer

[wysig | wysig bron]

Habermas verwerf vroeg bekendheid vir sy teorie oor die publiekesfeer. Hierdie teorie stel dit dat vir 'n optimale publiekesfeer, 'n ruimte geskep moet word waarbinne rasionele besprekings gevoer kan word, vry van enige dwingende magte. Volgens Habermas was daar sprake van 'n bourgeois-samelewing in die 18de eeu. In hierdie periode word daar immers druk gesprekke gevoer oor allerlei literêre en kunssinnige onderwerpe, maar ook oor politieke en sosiale sake binne die verskillende koffiehuise en filosofiese salons. Onder die deelnemers van hierdie byeenkomste heers 'n gevoel van gelykheid en geld slegs die gesag van die argument.

In die 19de eeu begin egter 'n proses waarin hierdie kosbare publieke sfeer stadig begin verlore gaan. So verwys Habermas na Ferdinand Tönnies wat die oorgang van "gemeenskap" na "samelewing" sien gebeur, wat tot gevolg het dat die publieke debat steeds meer onder druk kom. Sterker nog kom hierdie openbaarheid in die gedrang deur die opkomende kapitalisme en die gepaardgaande kompetisie en klem op die eiebelang. Vandag het die koms van die massamedia en die vervaging van die grense tussen die private en die staat, 'n publieke sfeer geskep wat volgens Habermas suboptimaal is.

Andere kernpunte van sy werk is die analitiese benadering van die ontwikkelde kapitalistiese samelewing, demokrasie en politiek. Verder gaan Habermas in sy werk op soek na 'n manier via elke individu om hierdie kritiese funksie van die publieke sfeer weer te kan herstel. Vereistes vir 'n goeie publieke sfeer sou vir Habermas onder andere die vooropstel van die gemeenskaplike belang wees, en die gebrek aan elke soort dwang buiten dié van 'n goeie argument.

Teorie van kommunikatiewe aksies

[wysig | wysig bron]

In die begin van die 1970s, toe daar sprake was van die "linguistiese wending" in filosofie, kom hierdie verskuiwing ook voor in die werk van Habermas. Die grootste invloed kom uit die taalfilosofie van John Austin en John Searle, maar andersyds ook van Noam Chomsky se generatiewe taalkunde. Ander invloede was ook die hermeneutiek van Hans-Georg Gadamer en die pragmatisme van C.S. Peirce. Op basis hiervan ontwikkel Habermas sy universele pragmatiek (Universalpragmatik) en sy konsensusteorie van die waarheid.

Hierdie insigte word in die 1980s uiteengesit in sy magnum opus Theorie des kommunikativen Handelns (1981), ook bekend as die blou monster (vanweë die kleur van die boek en die 1150 bladsy lengte). In die tweeledige werk ontwikkel Habermas

  • 'n teorie ten opsigte van die dubbele rasionalisering van die moderne samelewing;
  • 'n maatstaf vir maatskaplike kritiek; en
  • 'n kritiese diagnose van die moderne samelewing.

Dubbele rasionaliteit

[wysig | wysig bron]

Aanvanklik staan die Frankfurt Skool en hul kritiese teorie negatief teenoor die tradisionele idee van rasionaliteit soos dit ontwikkel het tydens die Verligting. 'n Klassieke werk binne die Frankfurt Skool is die Dialektik der Aufklärung (1947) van Max Horkheimer en Theodor Adorno. In die werk stel die skrywers dit dat die klassieke projek van die Verligting misluk het en dat die rasionaliteit en sy ideale omgedraai is deur gebeure soos die Sjoa. Dit openbaar die Weste se ware kleure, naamlik dié van irrasionaliteit en onderdrukking.

Habermas stem nie hiermee saam nie. Volgens Habermas is daar immers in die moderne samelewing twee vorme van rasionaliteit aan die werk. Ten eerste die doel-middelrasionaliteit wat hoofsaaklik werksaam is in wat Habermas 'n stelsel noem, en ten tweede is daar ook nog 'n "kommunikatiewe rasionaliteit" wat volgens hom die bindende meganisme in ons leefwêreld is. Die fout wat Horkheimer en Adorno maak, is dat hulle dink dat rasionaliteit slegs uit doelgerigte rasionele handelinge bestaan. Hierdie foutiewe idee is na te spoor tot Aristoteles, wat die rasionaliteit gelykstel met praktiese kennis oor hoe om met middele om te gaan. Habermas betoog egter dat daarnaas ook nog 'n ander vorm van rasionaliteit bestaan, naamlik een wat voorkom uit die uniekheid van kommunikasie self. Hy bou verder op die idees van Austin en Searle en hul taalhandelingteorie. Habermas stel dit dat agter elke gesprek meer skuil as bloot woorde. Wanneer mense in gesprek met mekaar tree, doen hulle meer as om dit as 'n middel of instrument te gebruik, maar veronderstel dat hul te make het met rasionele persone. So stel Habermas dit dat met elke gesprek drie geldigheidsaansprake gedoen word:

1. Waarheid: mens veronderstel dat die gespreksgenoot die waarheid praat.

2. Korrektheid: mens veronderstel dat die gespreksgenoot geregtig is om die uitsprake te maak wat hy/sy doen.

3. Waaragtigheid: mens veronderstel dat die gespreksgenoot bedoel wat hy sê en die gesprek ernstig opneem.

Maatstaf vir maatskaplike kritiek

[wysig | wysig bron]

Die uniekheid van kommunikasie is egter nie dat mens slegs hierdie veronderstellinge en geldigheidsaansprake maak nie, maar dat mens dit ook rasioneel kan bespreek. Hierdie aansprake moet bespreek kan word in 'n proses waarin rasionele argumente gewissel word en uiteindelik die mag van die beter argument tot sy reg laat kom. Almal wat dus 'n uitspraak maak waarin die persoon byvoorbeeld beoog om die waarheid te stel (bv. "dit reën buite") impliseer dat die genoemde geldigheidsaansprake ook op hul beurt ter sprake gestel kan word. So kan 'n mens vrae vir 'n regverdiging aangaande die waarheid ("is dit so dat dit reën?"), 'n regverdiging van korrektheid ("hoe kan jy weet dat dit reën?") en 'n regverdiging van waaragtigheid ("sê jy dit nie net omdat jy nie na buite wil gaan nie?") ten opsigte van die uitspraak. Hierop kan die gespreksgenoot dan reageer en so word 'n rasionele gesprek gevoer.

Vir Habermas is daar egter nog 'n ander voorwaarde om by 'n werklike rasionele gesprek uit te kom. Die bekendste voorwaarde is wel van die "magsvrye kommunikasie" (Herrschaftsfreie Kommunikation) wat bepaal dat geen enkele deelnemer 'n oorheersende rol mag speel in die gesprek nie, gebaseer op iets anders as die mag van die beste argument. Verdere voorwaardes is ook dat alle gespreksgenote argumente en probleme kan aanraak, wat hulle nie as voorwaardes stel nie en hulle ook werklik 'n gesprek wil voer. Dit lyk op eerste oogopslag na redelik idealistiese voorwaardes, wat moontlik moeilik is om in die praktyk te realiseer. Habermas erken dit, maar stel dat hierdie voorveronderstellings desondanks tog deur die gespreksgenote veronderstel word tydens elke gesprek. As die gespreksgenote egter besef dat hierdie voorwaardes geskend word, dan sal hulle hulself inderdaad teleurgesteld uit die gesprek onttrek.

Habermas stel ook voor dat hierdie nuwe soort rasionaliteit, naamlik die kommunikatiewe rasionaliteit, die basis kan vorm vir tradisionele waardes gedurende die modernistiese gesprekke. Gegewens soos die geldigheid van waarheid en korrektheid kan volgens Habermas net gebaseer word op hierdie kommunikatiewe rasionaliteit. Waarheid is volgens Habermas 'n produk van 'n rasionele konsensus, wat op sy beurt die gevolg is van 'n rasionele gesprek onderhewig aan die vroeër uiteengesette vereistes. Daarna is dit ook vir die etiek geldig en werk Habermas 'n gespreksetiek uit. Dit is net soos die waarheid 'n morele norm gebaseer op 'n rasionele konsensus tussen alle betrokke partye.

Kritiese diagnose

[wysig | wysig bron]

Met hierdie nuwe insigte in sy agterkop stel Habermas 'n nuwe kritiese maatskaplikediagnose voor. Belangrik is die onderskeid tussen stelsel en leefwêreld. Die term stelsel bekom Habermas uit die sosiologie, vanuit die sosiale stelselteorie ontwikkel deur Niklas Luhmann en Talcott Parsons. Voorbeelde van 'n stelsel is die ekonomiese stelsel en die staatsburokrasie. Binne 'n stelsel is die rasionele strewe na doelwitte dominant, en is die rol van die kommunikatiewe rasionaliteit grootliks marginaal. Binne die leefwêreld daarenteen, wat verstaan moet word as die totale versameling van kulturele idees wat voortdurend op die agtergrond saamspeel, is die kommunikatiewe rasionaliteit egter toonaangewend. Die term leefwêreld (Lebenswelt) bekom Habermas vanuit die fenomenologie van Edmund Husserl en Alfred Schütz.

Volgens Habermas is die leefwêreld die mees wesentlike en bied opsies om 'n deurbraak teen die stelsel te maak. In hierdie stadium van die moderniteit het ons volgens Habermas egter die kritiese punt bereik waarop die stelsel hom losmaak uit sy posisie in die leefwêreld en dit selfs begin domineer. Die gevolg is dat sekere ongerymdhede hul voordoen in die maatskaplike samelewing. Hierdie krisis in die moderne maatskaplike omgewing is dus, volgens Habermas, dat die ekonomiese- en administratiewe stelsels stadig maar seker ook die leefwêreld infiltreer. Habermas noem dit die "kolonisering van die leefwêreld " deur hierdie stelsels.

Die oplossing lê volgens Habermas in die gebruik van die grootliks onbenutte potensiaal binne die kommunikatiewe rasionaliteit, soos wat byvoorbeeld te vinde is binne universiteite en die publieke sfeer. Die projek van die moderniteit en die verligting is dus nie verlore projekte nie, maar het slegs 'n behoefte aan heroriëntasie.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
  • Gregg Daniel Miller, Mimesis and Reason: Habermas's Political Philosophy. SUNY Press, 2011.
  • Jürgen Habermas: a philosophical—political profile by Marvin Rintala, Perspectives on Political Science, 2002-01-01
  • Jürgen Habermas by Martin Matuštík (2001) ISBN 0-7425-0796-3
  • Postnational identity: critical theory and existential philosophy in Habermas, Kierkegaard, and Havel by Martin Matuštík (1993) ISBN 0-89862-420-7
  • Thomas McCarthy, The Critical Theory of Jürgen Habermas, MIT Press, 1978.
A highly regarded interpretation in English of Habermas's earlier work, written just as Habermas was developing his full-fledged communication theory.
  • Raymond Geuss, The Idea of a Critical Theory, Cambridge University Press, 1981.
A clear account of Habermas's early philosophical views.
  • J.G. Finlayson, Habermas: A Very Short Introduction, Oxford University Press, 2004.
A recent, brief introduction to Habermas, focusing on his communication theory of society.
Discussing Habermas's legal philosophy in the 1992 original German edition of Between Facts and Norms.
  • Andreas Dorschel: 'Handlungstypen und Kriterien. Zu Habermas' Theorie des kommunikativen Handelns, in: Zeitschrift für philosophische Forschung 44 (1990), nr. 2, pp. 220–252. A critical discussion of types of action in Habermas. In German.
  • Erik Oddvar Eriksen and Jarle Weigard, Understanding Habermas: Communicative Action and Deliberative Democracy, Continuum International Publishing, 2004 (ISBN 0-8264-7179-X).
A recent and comprehensive introduction to Habermas's mature theory and its political implications both national and global.
  • Alexandre Guilherme and W. John Morgan, 'Jürgen Habermas (1929–present) – dialogue as communicative rationality', Chapter 9 in Philosophy, Dialogue, and Education: Nine modern European philosophers, Routledge, London and New York, pp. 140– 154. ISBN 978-1-138-83149-0.
  • Detlef Horster. Habermas: An Introduction. Pennbridge, 1992 (ISBN 1-880055-01-5)
  • Martin Jay, Marxism and Totality: The Adventures of a Concept from Lukacs to Habermas (Chapter 9), University of California Press, 1986. (ISBN 0-520-05742-2)
  • Ernst Piper (ed.) "Historikerstreit": Die Dokumentation der Kontroverse um die Einzigartigkeit der nationalsozialistschen Judenvernichtung, Munich: Piper, 1987, translated into English by James Knowlton and Truett Cates as Forever In The Shadow Of Hitler?: Original Documents Of the Historikerstreit, The Controversy Concerning The Singularity Of The Holocaust, Atlantic Highlands, N.J.: Humanities Press, 1993 (ISBN 0-391-03784-6) Contains Habermas's essays from the Historikerstreit and the reactions of various scholars to his statements.
  • Edgar, Andrew. The Philosophy of Habermas. Мontreal, McGill-Queen's UP, 2005.
  • Adams, Nicholas. Habermas & Theology. Cambridge, Cambridge University Press, 2006.
  • Mike Sandbothe, Habermas, Pragmatism, and the Media, Aanlyn publikasie: sandbothe.net 2008; Duitse oorspronklike in: Über Habermas. Gespräche mit Zeitgenossen, ed. by Michael Funken, Darmstadt: Primus, 2008.
  • Müller-Doohm, Stefan. Jürgen Habermas. Frankfurt, Suhrkamp, 2008 (Suhrkamp BasisBiographie, 38).
  • Moderne Religion? Theologische und religionsphilosophische Reaktionen auf Jürgen Habermas. Hrsg. v. Knut Wenzel und Thomas M. Schmidt. Freiburg, Herder, 2009.
  • Luca Corchia, Jürgen Habermas. A bibliography: works and studies (1952–2013): With an Introduction by Stefan Müller-Doohm, Arnus Edizioni – Il Campano, Pisa, 2013.
  • Corchia, Luca (April 2018). Jürgen Habermas. A Bibliography. 1. Works of Jürgen Habermas (1952–2018). Department of Political Science, University of Pisa (Italy), 156 pp..
  • Corchia, Luca (Februarie 2016). Jürgen Habermas. A bibliography. 2. Studies on Jürgen Habermas (1962–2015). Department of Political Science, University of Pisa (Italy), 468 pp..
  • Peter Koller, Christian Hiebaum, Jürgen Habermas: Faktizität und Geltung, Walter de Gruyter, 2016.