Gaan na inhoud

Black Ferns

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Hierdie artikel handel oor die Nieu-Seelandse nasionale vrouerugbyspan. Vir die artikel oor die nasionale mansrugbyspan, sien All Blacks.
Nieu-Seeland
Unie Nieu-Seeland Rugby (NZR)
Bynaam(e) Black Ferns
Embleem Varingblaar
Afrigter(s) Vlag van Nieu-Seeland Allan Bunting (sedert 2023)
Kaptein(s) Ruahei Demant
Kennedy Simon
Spankleure
Alt. kleure

Statistiek
Meeste toetse Kendra Cocksedge (68)
Meeste toetspunte Kendra Cocksedge (404)
Eerste internasionale wedstryd
Vlag van Nieu-Seeland Nieu-Seeland 56–0 Nederland Vlag van Nederland
(Christchurch, Nieu-Seeland; 26 Augustus 1990)
Grootste oorwinning
Vlag van Duitsland Duitsland 6–134 Nieu-Seeland Vlag van Nieu-Seeland
(Amsterdam, Nederland; 2 Mei 1998)
Grootste nederlaag
Vlag van Engeland Engeland 56–15 Nieu-Seeland Vlag van Nieu-Seeland
(Northampton, Engeland; 7 November 2021)
Wêreldbeker
Verskynings 9/10 (Eerste in 1991)
Beste uitslag Kampioen in 1998, 2002, 2006, 2010, 2017 en 2021
Amptelike webwerf
www.allblacks.com
Unie webwerf
www.nzrugby.co.nz

Die Black Ferns (Maori: Rarauhe Pango) is die nasionale vrouerugbyspan wat Nieu-Seeland in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby is Nieu-Seeland se nasionale sport en die Black Ferns is ’n gedugte mag in internasionale rugby met ’n wenrekord teen al die ander lande. Nieu-Seeland is een van die min lande waar rugby die hoofsport is.[1]

Sy belangrikste internasionale verskyning het die Black Ferns tydens die vierjaarlikse vrouerugbywêreldbekertoernooi. Hulle kon die titel tot dusver ses keer wen (in 1998, 2002, 2006, 2010, 2017 en 2021) en is daarmee by verre die suksesvolste span tydens dié toernooi. Die Black Ferns neem jaarliks aan die Stille Oseaan-vierreeks deel, saam met Australië, Kanada en die Verenigde State.

Rugby het ’n belangrike rol gespeel in die integrasie van die Maori's in die Brits-beïnvloede Nieu-Seelandse samelewing, aangesien die sport geskik was vir die fisieke vermoëns van die inheemse mense van Nieu-Seeland en hulle is spoedig as gelykwaardige spelers aanvaar. Om die teenstander te intimideer en hulleself te motiveer voer die Black Ferns tradisioneel ’n haka (’n Maori-oorlogsdans) voor elke wedstryd uit.

Die Black Ferns het hul eerste toetswedstryd in 1990 teen Nederland gespeel. Rugby word in Nieu-Seeland geadministreer deur Nieu-Seeland Rugby wat ’n volle lis is van Wêreldrugby. Die Nieu-Seelandse vrouerugbyspan is tans (September 2025) derde op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[2] Vier voormalige Black Ferns is in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem.

Beheerliggaam

[wysig | wysig bron]

Die beheerliggaam vir rugby in Nieu-Seeland is Nieu-Seeland Rugby (NZR), tot in 2013 Nieu-Seelandse Rugbyvoetbalunie (NZRFU, van Engels New Zealand Rugby Football Union) genoem. Die NZRFU is op 16 April 1892 gestig.[3] In 1949 is dit geaffilieer by die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) die wêreldbeheerliggaam van rugby.[4] Daarbenewens was die Nieu-Seelandse beheerliggaam in 2000 ’n stigtingslid van die Vereniging van Oseaniese Rugbyunies (Federation of Oceania Rugby Unions, FORU; nou Oseanië Rugby).[5]

Die belangrikste rugbyligas in Nieu-Seeland is die professionele Superrugby Aupiki en die amateurliga Farah Palmerbeker.[6][7]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Oorsprong

[wysig | wysig bron]

In die 1980’s het vrouerugby in Nieu-Seeland gegroei, maar dit is deur die Nieu-Seelandse Rugbyvoetbalunie (NZRFU) nóg erken nóg ondersteun.[8][9] Eers in 1989 het vrouerugby amptelike erkenning ontvang met die reël van wedstryde deur provinsiale en klubspanne.[8][9] Op 22 Julie dieselfde jaar het Nieu-Seeland sy eerste wedstryd teen ’n besoekende Amerikaanse span gespeel, die California Grizzlies.[9][10]

Spannaam

[wysig | wysig bron]

Die spannaam is ontleen aan die swart boomvaring wat ’n taonga (“skat”) van Nieu-Seeland is. Daarbenewens het dié naam ook ’n verbintenis met die kleur swart en die silwervaring wat albei bekende simbole van die Nieu-Seelandse sport is. Dit is een van talle byname vir Nieu-Seelandse nasionale spanne wat verband hou met die All Blacks.[11]

Wêreldbekertitels

[wysig | wysig bron]

Die Black Ferns het sedert die eerste 1991-toernooi aan amper al die vrouerugbywêreldbekertoernooie deelgeneem en slegs die 1994-toernooi in Skotland misgeloop. Sedert hul eerste titel tydens die eerste deur die Internasionale Rugbyraad (IRR; nou Wêreldrugby) amptelik erkende Vrouerugbywêreldbeker 1998 kon die Black Ferns nog vyf titels inpalm in 2002, 2006, 2010, 2017 en 2021 tuis.[12][13]

Befondsing

[wysig | wysig bron]

Alhoewel rugby Nieu-Seeland se gewildste sportsoort is, het die Black Ferns soortgelyke probleme in die gesig gestaar soos elke vrouesport: onderbefondsing, ’n gebreek aan ondersteuning en ’n gebrek aan publisiteit. Terwyl die Nieu-Seelandse Rugbyvoetbalunie en Wêreldrugby deels vir hul gebrek aan toewyding vir vrouerugby gekritiseer is, het die ondersteuning deur die beheerliggame toegeneem, veral danksy die Black Ferns se suksesse.

Sedert 1995 ondersteun die NZRU die Black Ferns wat aan die sport ’n groot groei besorg het, terwyl die Black Ferns ook bat vind by hul deelname aan die NZRU se hoëprestasie-inisiatiewe. Daarmee geniet die span toegang tot professionele afrigters, maar ook tot hulpbronne vir professionele ontwikkeling soos ontledings. In onlangse tye het ook die span se profiel in gewilde sportsoorte sterk toegeneem, veral danksy hulle suksesreeks en dit word toenemend as ’n nasionale span op dieselfde vlak as al die ander beskou.

Provinsiale kampioenskap

[wysig | wysig bron]
Die Black Ferns se trui in 2012

Nadat die NZRU in Januarie 2010 aangekondig het om die Provinsiale vrouekampioenskap om finansiële redes te skrap, was dié toernooi se toekoms ernstig bedreig. Aangesien die kampioenskap ’n belangrike hoeksteen is vir oefening, asook beide ontwikkeling en mededinging in Nieu-Seelandse vrouerugby, was die aankondiging vir beide spelers en ondersteuners ’n skok, waaronder die voormalige kaptein Farah Palmer, ook omdat dit die jaar van die Vrouerugbywêreldbeker was.[14]

Terwyl die Nieu-Seelandse beheerliggaam aangevoer het, dat vrouerugby een van verskeie slagoffers van die finansiële krisis was, is dié besluit skerp veroordeel. Nadat die Black Ferns die Vrouerugbywêreldbeker 2010 kon wen, het die NZRU onmiddellik om verskoning gevra en die Provinsiale vrouekampioenskap heringestel, wat in 2016 ter erkenning van die vroeë, invloedryke kaptein van die Black Ferns in Farah Palmer-beker hernoem is.

Internasionale toernooie

[wysig | wysig bron]
Die Black Ferns nadat hulle die Vrouerugbywêreldbeker 2017 kon wen
Ontvangs van die Black Ferns by die Parlementsgebou nadat hulle in 2021 as die wêreldkampioen gekroon is

Die Black Ferns het die Kanadabeker in 1996, 2000 en 2005 asook die Churchillbeker in 2004 gewen. Tussen 2002 en hul laaste wedstryd in 2009 het die Black Ferns 24 agtereenvolgende toetswedstrydoorwinnings aangeteken.

Ná hul sukses het al die spelers van die nasionale sewesrugby- en vrouerugbyspanne in 2018 halfprofessionele kontrakte ontvang. Daarbenewens het hulle in die eerste toetsreeks teen die Australiese Wallaroos gespeel wat op dieselfde aande soos die mans se Bledisloebeker gehou is.

Die 2018-seisoen het hulle afgesluit met ’n 1–1-gelykop in die toetsreeks teen Frankryk, wat daarmee die vierde land geword het wat die Black Ferns kon klop. Die nederlaag in die laaste wedstryd van die jaar het ’n wenreeks van 17 maande beëindig en dit was ook die laatste wedstryd vir kaptein Fa’amausili wat haar internasionale loopbaan beeindig het.[15]

In 2019 kon die Black Ferns die jaarlikse Vrouerugbysuperreeks vir die tweede keer beklink. Op 31 Oktober 2021 het die Black Ferns in hul 100ste toetswedstryd teen Engeland in Exeter gespeel.[16][17] Hulle het die Stille Oseaan-vierreeks 2022 aangebied en kon dié toernooi vir die eerste keer onoorwonne beklink.[18][19]

Nieu-Seeland het die met een jaar uitgestelde Vrouerugbywêreldbeker 2021 aangebied, waarvoor ook Australië gebie het.[20] Nieu-Seeland was as gasvroue regstreeks gekwalifiseer en die Black Ferns kon hul titel suksesvol verdedig met ’n oorwinning oor Engeland in die eindstryd, gelyk aan hul sesde titel.[21]

Die Black Ferns het die jaar 2023 met ’n nuwe afrigter en ’n afranseling van die Wallaroos met 50–0 in die jaar se eerste toetswedstryd afgeskop; daarmee het hulle die O’Reilly-beker vir nog ’n jaar gewen en die eerste plek van die Stille Oseaan-vierreeks 2023 behaal.[22] Ná maklike oorwinnings oor Kanada en die Verenigde State kon die Nieu-Seelanders hul tweede titel inpalm.[23][24]

Nieu-Seeland het die eerste WXV 1 2023 op 20 Oktober aangebied, waaraan ook Australië Engeland, Frankryk, Kanada en Wallis deelgeneem het.[25][26] Tydens dié toernooi kon die Franse die Nieu-Seelandsers se wenreeks van 16 toetswedstryde met ’n 18–17-oorwinning beëindig.[23][27] Daarna het die Black Ferns in die eerste toetswedstryd in Dunedin sedert 1997 Wallis met 70–7 verneder.[28][29] Die beslissende wedstryd om die titel was ’n herhaling van die Vrouerugbywêreldbeker 2021-eindstryd teen Engeland, wat die Red Roses kon beklink en sodoende die eerste WXV 1-titel gewen het.[30][31]

Stadions

[wysig | wysig bron]

Net soos ander vername rugbylande soos Frankryk, Ierland, Italië, Kanada, Skotland, Suid-Afrika, die Verenigde State en Wallis beskik Nieu-Seeland oor geen amptelike tuisstadion vir sy nasionale span nie. Die Black Ferns gebruik vir hul toetse eerder ’n verskeidenheid stadions dwarsdeur Nieu-Seeland. Veral Edenpark in Auckland, Westpacstadion in Wellington und die Waikatostadion in Hamilton word gereeld vir toetswedstryde gebruik.

Rugbywêreldbekerstadions

[wysig | wysig bron]

Nieu-Seeland het die Vrouerugbywêreldbeker 2021 aangebied. Al die wedstryde is op die Nieu-Seelandse Noordeiland gehou. In Auckland is Edenpark en The Trusts Arena asook in Whangarei Okarapark gebruik.

Toetswedstryde

[wysig | wysig bron]

Nieu-Seeland het 112 van sy 136 toetswedstryde gewen, ’n wenrekord van 82,35%. Australië se statistieke in toetswedstryde teen alle lande, in alfabetiese volgorde, is soos volg (korrek teen September 2025):

Opponent Gespeel Gewen Verloor Gelykop % Gewen
Vlag van Australië Australië272700100,00
Vlag van Duitsland Duitsland2200100,00
Vlag van Engeland Engeland331913157,38
Vlag van Frankryk Frankryk1385061,54
Vlag van Hongkong Hongkong1100100,00
Vlag van Ierland Ierland422050,00
Vlag van Japan Japan2200100,00
Vlag van Kanada Kanada19172089,47
Vlag van Kasakstan Kasakstan1100100,00
Vlag van Samoa Samoa2200100,00
Vlag van Skotland Skotland4400100,00
Vlag van Spanje Spanje2200100,00
Vlag van Suid-Afrika Suid-Afrika2200100,00
Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State15141093,33
Vlag van Wallis Wallis7700100,00
 Wêreld XV2200100,00
Algeheel13611223182,35

Wedywering met ander nasionale spanne

[wysig | wysig bron]

Soos in ander sportsoorte (veral krieket, rugby league, netbal en op die Statebondspele) handhaaf Nieu-Seeland tradisioneel goeie wedywering met sy buurland Australië,[32][33] waarna dikwels as “wedywering onder sibbes” (sibling rivalry) verwys word.[34][35] Die eerste toetswedstryd tussen albei spanne is tydens die Nieu-Seelandse besoek aan Australië in 1994 gespeel. Sedertdien ding albei spanne mee om die Laurie O’Reilly-beker, een van die oudste trofeë in internasionale vrouerugby. Van die 27 toetswedstryde tot dusver het Nieu-Seeland al die wedstryde gewen.

Net soos die ander rugbylande van die Suidelike Halfrond handhaaf Nieu-Seeland ’n wedywering met die nasionale spanne van die Noordelike Halfrond. Eweneens het Nieu-Seeland tydens vyf van sy ses eindstrydverskynings teen Engeland te staan gekom, wat hulle almal kon wen.

Rekords

[wysig | wysig bron]

Wêreldbekerrekord

[wysig | wysig bron]
Nieu-Seeland kon in 1998, 2002, 2006, 2010, 2017 en 2021 die vrouerugbywêreldbekertoernooi wen

Nieu-Seeland het tot dusver aan nege vrouerugbywêreldbekertoernooie deelgeneem en kon die toernooi ses keer wen (in 1998, 2002, 2006, 2010, 2017 en 2021), by verre meer as enige ander span.

JaarUitslag
1991Derde plek
1994Nie deelgeneem nie
1998Kampioen
2002Kampioen
2006Kampioen
2010Kampioen
2014Vierde plek
2017Kampioen
2021Kampioen
2025Derde plek
2029gekwalifiseer
2033N.v.t.

Stille Oseaan-vierreeks

[wysig | wysig bron]

Nieu-Seeland se enigste jaarlikse toernooi is die Stille Oseaan-vierreeks, waar hulle teen drie ander lande van die Stille Oseaangebied speel: Australië, Kanada en die Verenigde State. Die Stille Oseaan-vierreeks is in 2021 vir die eerste keer tussen Kanada en die Verenigde State beslis, Australië en Nieu-Seeland het in 2022 by dié toernooi aangesluit.[36] Die Black Ferns het sedertdien twee toernooie gewen.

  • Titeloorwinnings (2): 2022, 2023

Spelers

[wysig | wysig bron]

Huidige span

[wysig | wysig bron]

Die volgende spelers het die Black Ferns-span gevorm tydens die Vrouerugbywêreldbeker 2025:[37]

Agterspelers (backs)
SpelerPosisieKlubToetswedstryde
Iritana HohaiaSkrumskakelHurricanes Poua / Taranaki17
Maia JosephSkrumskakelMatatu / Otago11
Risi Pouri-LaneSkrumskakelNieu-Seeland Sewes / Tasman2
Kelly BrazierLosskakelChiefs Manawa / Canterbury43
Ruahei Demant KapteinLosskakelBlues / Auckland45
Sylvia BruntSenterBlues / Auckland25
Amy du PlessisSenterMatatu / Canterbury21
Theresa SetefanoSenterBlues / Auckland19
Stacey WaakaSenterChiefs Manawa / Waikato27
Ayesha Leti-IʻigaVleuelHurricanes Poua / Wellington26
Katelyn VahaʻakoloVleuelBlues / Auckland17
Portia Woodman-WickliffeVleuelBlues / Auckland28
Renee HolmesHeelagterChiefs Manawa / Waikato24
Braxton Sorensen-McGeeHeelagterBlues / Auckland3
Voorspelers (forwards)
SpelerPosisieKlubToetswedstryde
Vici-Rose GreenHakerChiefs Manawa / Waikato2
Atlanta LoloheaHakerBlues / Canterbury7
Georgia PonsonbyHakerMatatu / Canterbury31
Kate HenwoodStutChiefs Manawa / Bay of Plenty10
Tanya KalounivaleStutChiefs Manawa / Waikato22
Veisinia Mahutariki-FakaleluStutChiefs Manawa / Waikato1
Amy RuleStutMatatu / Canterbury30
Awhina Tangen-WainohuStutBlues / Waikato7
Chryss VilikoStutBlues / Auckland13
Laura BayfieldSlotMatatu / Canterbury1
Alana BremnerSlotMatatu / Canterbury29
Chelsea BremnerSlotMatatu / Canterbury22
Maia RoosSlotBlues / Auckland33
Liana Mikaele-TuʻuLosvoorspelerBlues / Auckland29
Jorja MillerLosvoorspelerNieu-Seeland Sewes / Canterbury2
Kaipo Olsen-BakerLosvoorspelerMatatu / Manawatu12
Layla SaeLosvoorspelerHurricanes Poua / Manawatu14
Kennedy Tukuafu KapteinLosvoorspelerChiefs Manawa / Waikato30

Bekende spelers

[wysig | wysig bron]

Vier voormalige Nieu-Seelandse spelers is vir hul uitstekende prestasies in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem:[38]

SpelerPosisieInskrywing
Fiaoʻo FaʻamausiliHaker2022
Huriana ManuelSenter2021
Farah PalmerHaker2014
Anna RichardsLosskakel2014

Afrigters

[wysig | wysig bron]

Die volgende persone het al as hoofafrigters van die Black Ferns gedien:

NaamTydperk
Vlag van Nieu-Seeland Laurie O’Reilly1991
Vlag van Nieu-Seeland Vicky Dombroski1994–1995
Vlag van Nieu-Seeland Darryl Suasua1996–2002
Vlag van Nieu-Seeland Jed Rowlands2003–2006
Vlag van Nieu-Seeland Dale Atkins2007–2008
Vlag van Nieu-Seeland Brian Evans2009–2010
Vlag van Nieu-Seeland Grant Hansen2011
Vlag van Nieu-Seeland Brian Evans2012–2014
Vlag van Nieu-Seeland Greg Smith2015
Vlag van Nieu-Seeland Glenn Moore2015–2021
Vlag van Nieu-Seeland Wayne Smith2022
Vlag van Nieu-Seeland Allan Buntingsedert 2023

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) "Rugby History in Fiji". Teivovo. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 November 2007. Besoek op 14 November 2007.
  2. (en) "Women's and Men's Rankings". Wêreldrugby. Besoek op 28 September 2025.
  3. (en) "Our History". Nieu-Seeland Rugby. Besoek op 28 September 2025.
  4. (en) "New Zealand". Wêreldrugby. Besoek op 28 September 2025.
  5. (en) Robert F. Dewey (2012). John Nauright, Charles Parrish (red.). Rugby Union Football, Pacific Islands (1 uitg.). Santa Barbara: ABC-Clio. pp. 445–447. ISBN 978-1-59884-300-2. {{cite book}}: |work= ignored (hulp)
  6. (en) "Go pro? Black Ferns rugby debate – where to after fabulous World Cup triumph". The New Zealand Herald. 28 Augustus 2017. Besoek op 28 September 2025.
  7. (en) "Sky Super Rugby Aupiki". Superrugby. Besoek op 28 September 2025.
  8. 1 2 (en) Farah Palmer (10 Oktober 2013). "Opinion: Thanks JJ Stewart, and thanks Otago Spirit". Otago Daily Times. Besoek op 28 September 2025.
  9. 1 2 3 (en) Helen Harvey (10 Mei 2019). "Women's rugby: From hand-me-down jerseys to professional contracts". Stuff. Besoek op 28 September 2025.
  10. (en) "31 years since first official New Zealand women's team took to the field". All Blacks. 22 Julie 2020. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Oktober 2022. Besoek op 22 Oktober 2022.
  11. (en) "New Zealand People". New Zealand. Besoek op 28 September 2025.
  12. (en) Adam Julian (8 November 2022). "A look back at Rugby World Cup finals history". All Blacks. Besoek op 28 September 2025.
  13. (en) Adam Julian (12 November 2022). "Black Ferns crowned Rugby World Cup champions". All Blacks. Besoek op 28 September 2025.
  14. (en) Dylan Cleaver (22 Januarie 2010). "Rugby: NZRU plan 'will kill women's rugby'". The New Zealand Herald. Besoek op 28 September 2025.
  15. (en) "Black Ferns fall to France in second test". Newshub. 18 November 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 November 2018. Besoek op 19 November 2018.
  16. (en) "Black Ferns set to play historic 100th Test match". All Blacks. 30 September 2021. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Oktober 2023. Besoek op 29 Oktober 2023.
  17. (en) Joseph Pearson (31 Oktober 2021). "Milestone match ends with heaviest defeat in history as Black Ferns lose 100th test against England". Stuff. Besoek op 28 September 2025.
  18. (en) "Black Ferns win Pacific Four". Otago Daily Times. 18 Junie 2022. Besoek op 28 September 2025.
  19. (en) "New Zealand win the Pacific Four Series 2022". Wêreldrugby. 18 Junie 2022. Besoek op 28 September 2025.
  20. (en) "New Zealand to host 2021 Women's World Cup". The New Zealand Herald. 15 November 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 November 2018. Besoek op 19 November 2018.
  21. (en) Joseph Pearson (12 November 2022). "Black Ferns stun England to win Rugby World Cup for a sixth time in Eden Park thriller". Stuff. Besoek op 28 September 2025.
  22. (en) "Mererangi Paul and Sylvia Brunt impress as Black Ferns beat Wallaroos". Wêreldrugby. 29 Junie 2023. Besoek op 28 September 2025.
  23. 1 2 (en) Adam Julian (7 November 2023). "Looking back on the Black Ferns 2023 season". All Blacks. Besoek op 28 September 2025.
  24. (en) "Black Ferns secure second consecutive Pacific Four Series title". RugbyPass. 17 Julie 2023. Besoek op 28 September 2025.
  25. (en) "New Zealand to host inaugural WXV tournament". Rugby Australia. 5 Mei 2023. Besoek op 28 September 2025.
  26. (en) Sara Orchard (5 Mei 2023). "WXV: New Zealand to host England and Wales in inaugural series". BBC. Besoek op 28 September 2025.
  27. (en) Joseph Pearson (21 Oktober 2023). "Black Ferns suffer first defeat in two years as France claim historic win in WXV1 opener". Stuff. Besoek op 28 September 2025.
  28. (en) Adam Julian (28 Oktober 2023). "Black Ferns pile on the points in Dunedin". All Blacks. Besoek op 28 September 2025.
  29. (en) Paul Cully (28 Oktober 2023). "Ruby Tui scores four tries as Black Ferns thrash Wales in second WXV1 fixture". Stuff. Besoek op 28 September 2025.
  30. (en) Adam Julian (4 November 2023). "Black Ferns fall to England in WXV 1 decider". All Blacks. Besoek op 28 September 2025.
  31. (en) "How WXV 1 was won: England's journey to glory". Wêreldrugby. 6 November 2023. Besoek op 28 September 2025.
  32. (en) Trevor Marshallsea (3 Mei 2016). "Mad Tuesday: 11 things you never wanted to know about the Trans Tasman sporting rivalry". Fox Sports. Besoek op 28 September 2025.
  33. (en) Russell Jackson (28 Oktober 2015). "The encounters that have underpinned trans-Tasman sporting rivalry". The Guardian. Besoek op 28 September 2025.
  34. (en) Suvajit Mustafi (28 Maart 2015). "Australia vs New Zealand, an intense sibling rivalry where nothing else matters than 'win'". Cricket Country. Besoek op 28 September 2025.
  35. (en) Rosanna Price, Henry Cooke (27 Maart 2015). "Top ten NZ/Australia clashes". Stuff. Besoek op 28 September 2025.
  36. (en) "Pacific Four Series Announced". W Rugby. Besoek op 28 September 2025.
  37. (en) "Black Ferns name 33-strong squad for Rugby World Cup in England". Nieu-Seeland Rugby. 25 Julie 2025. Besoek op 28 September 2025.
  38. (en) "Inductees". Wêreldrugby. Besoek op 28 September 2025.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]