Arthur Owen Vaughan
Lieutenant Colonel Arthur Owen Vaughan DSO, OBE, DCM | |
|---|---|
Arthur Owen Vaughan, c. 1880 | |
| Gebore | Robert Scowfield Mills 6 September 1863 Southport, Lancashire, Engeland |
| Sterf | 15 Oktober 1919 (op 56) |
| Rusplek | St Thomas' Church, Rhyl, Flintshire |
| Ander name | Owen Rhoscomyl |
| Beroep | Skrywer, soldaat |
| Bekend vir | Waliese nasionalisme, skryfwerk |
Notable work | Flame-Bearers of Welsh History: Being the outline of the Sons of Cunedda |
| Eggenoot | Katharina Louisa (Katherine Lois) Geere |
| Kinders | 4 |
| Toekennings | Distinguished Service Order, Order of the British Empire, Distinguished Conduct Medal |
Lt. Kolonel Arthur Owen Vaughan, DSO, OBE, DCM (6 September 1863 - 15 Oktober 1919), ook bekend deur sy skuilnaam Owen Rhoscomyl, was 'n Engels-gebore skrywer, soldaat en Walliese nasionalis. Hy is gebore as Robert Scowfield Mills in England. Owen Rhoscomyl is beïnvloed deur sy Walliese ouma en het 'n noemenswaardige patriot vir Wallis en Wallise geskiedenis geword.
In Suid-Afrika is Vaughan veral bekend vir die bydrae wat hy tot die Afrikaanse literatuurgeskiedenis gemaak het met sy, en sy vrou, Katherine Louisa Vaughan se boek Ou Hendrik se stories. As Owen Rhoscomyl publiseer hy verskeie Engelse romans en geskiedkundige werke.
Vroeë lewe
[wysig | wysig bron]Vaughan is gebore in Southport, Lancashire, maar het verhuis na Droylsden, Lancashire waar hy groot geword het. In sy grootwordjare ervaar hy verskeie ontwrigtings wat veroorsaak dat hy uiteindelik by sy ouma (aan moederskant) in Wallis grootword.
Sy ouers was Robert Mills en Jane Ann, die dogter van Joseph Scourfield. Sy vader is slegs 'n maand na sy geboorte, op 16 Oktober 1863, in 'n industriële ongeluk oorlede.[1] Sy moeder verhuis na Manchester, waar sy weer trou. Daar is drie kinders uit haar tweede huwelik gebore, twee waarvan baie jonk dood is.[1] Haar tweede man, Luke Etchells, is in 1869 oorlede[2] en sy moeder self is op 5 Maart 1869 oorlede.[1] In hierdie omstandighede word hy groot gemaak deur sy ouma aan moederskant, wat oorspronklik Tremeirchion in Noord-Wallis gebore is. Sy het begin om hom Owen te noem, na aanleiding van die Walliese held Owain Glendwr[1] en hy ontwikkel in hierdie tyd 'n groot belangstelling in die Walliese geskiedenis, wat later in sy werke tot uiting sou kom. Hulle bly vir 'n ruk in die Vallei van Clwyd in Wallis.
Op vyftienjarige leeftyd loop hy van die huis af weg en gaan per skip vanaf Portmadoc[2] na Amerika,[3] waar hy 'n cowboy word, en ook prospekteerwerk doen vir myne in Colorado, Wyoming en Montana.[4]
Militêre loopbaan
[wysig | wysig bron]Hy keer terug na Engeland en sluit op 15 Januarie 1882 as soldaat aan by die First Royal Dragoons regiment.[1] Op hierdie tydstip van sy lewe staan hy bekend as Robert Milne.[4] Hier word hy bevorder tot onder-korporaal en ontwerp as entrepreneur 'n visier vir 'n masjiengeweer en 'n soldatemantel.[1] Sy drome van groot rykdom as gevolg van sy uitvindings verdwyn wanneer hy gedwing word om uit die weermag te bedank omdat hy gebruik gemaak het van 'n Franse agent.[1] Hy bedank dus in 1890 uit die weermag, waarna hy vir etlike jare die metgesel is van die sewentigjarige Elizabeth Anne Surtees-Allnat en in huise in Hereford en Conwy in Wallis woon.[4] Vanaf 1895 skryf hy etlike romans onder die skuilnaam Owen Rhoscomyl. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 staan hy bekend as Arthur Owen Vaughan en wil hy weer by die Britse weermag aansluit, maar word afgekeur.[1] Op eie koste en inisiatief gaan hy dan na Kaapstad, waar hy toegelaat word tot die Rimington’s Guides en in hierdie regiment tot sersant bevorder word.[1] Hy neem deel aan die veldslae by Belmont, Modderrivier, Magersfontein, die ontsetting van Kimberley, Paardeberg, Diamond Hill, Johannesburg, Driefontein en Belfast. In 1901 ontvang hy die gesogte Distinguished Conduct Medal (DCM) vir dapperheid naby Reitz in die Vrystaat, waar hy onder hewige vyandelike vuur 'n soldaat red wat onder sy perd vasgepen was nadat die perd op die walle van die rivier doodgeskiet is.[4] Wanneer die regiment in 1901 ontbind sluit hy aan by Damant’s Horses en daarna by die Canadian Scouts, wat gelei is deur A.L. Howard. In sy tyd in hierdie regiment word hy tot kaptein bevorder.[1]
Vaughan het in verskeie perderuitersmagte gedien, hoofsaaklik[5] in "Rimington's Guides" en hul opvolgereenheid "Damant's Horse". As deel van hierdie eenheid is hy betrokke by verskeie veldslae (o.a. Magersfontein, Modderrivier en Belmont) en ontsettings (o.a. Johannesburg, Paardeberg en Kimberley).[1] Hy is ook in hierdie tyd genoem vir dapperheid onder skoot en die DCM bekroon.[6] In October 1901 sluit hy aan by "Ross's Canadian Scouts", 'n anti-Boer kommando eenheid wat voorheen gelei is deur Arthur L. Howard,[5] waarin Vaughan die rang van kaptein bereik het.[7]
Toe die Eerste Wêreldoorlog in Augustus 1914 uitgebreek het, was Vaughan prominent in die werwing van 'n nuwe regiment in Suid-Wallis, die "Welsh Horse Yeomanry", in die hoop – tevergeefs, soos dit geblyk het – om bevel te kry. Tydelike Lt.-Kol. Vaughan van die Arbeidskorps is bekroon met die DSO in die 1919 New Year Honours.[8]
Vaughan sit sy loopbaan as soldaat tydens die Eerste Wêreldoorlog voort. Vir sy dapperheid en getroue diens in die weermag en in oorlogstoestande verower hy die Distinguished Service Order (DSO) en die koning ken ook na sy dood die Order of the British Empire (OBE) toe.[4]
Literêre loopbaan en latere lewe
[wysig | wysig bron]
Terwyl hy in Suid-Afrika was, ontmoet hy die boeremeisie Katherine Louisa de Geere. Hulle trou in die geheim, sonder die toestemming van haar ouers op 21 Desember 1900, aan die oewer van die Vaalrivier naby Parys[1][5][2]
Na die einde van die oorlog in 1902 keer hy saam met sy vrou terug na Engeland. In 1905 het hy sy beroemdste werk Flame-Bearers of Welsh History: Being the outline of the Sons of Cunedda voltooi, wat gekyk het na die bydrae van die Walliese volk tot die groei van die Britse Ryk.
In hierdie tyd skryf hy meestal onder die skuilnaam Owen Rhoscomyl, wat hy aflei van Rho(bert) Sco(urfield) Myl(ne), die Mylne synde die Middel-Engelse woord vir “mill”.[2] Hy skryf en organiseer die National Pageant of Wales in 1909, 'n opvoering van die Walliese geskiedenis.[9] Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 stig hy die Welsh Horse Regiment, maar word nie toegelaat om bevelvoerder hiervan te wees nie, waarna hy as majoor by die Nortthumberland Fusiliers aansluit.[4] Hy dien ook as offisier by verskeie eenhede aan die Westerse Front, insluitende die 21st Division Cyclists en Kings Own Yorkshire Light Infantry[1] en is persoonlike intelligensie-agent vir die Walliese Minister van Oorlog David Lloyd George, wat in 1916 Eerste Minister geword het.[4] In 1917 begin sy gesondheid swakker word en hy dien as tydelike kolonel in die Arbeidskorps.[4] Vir sy dapperheid en getroue diens in die weermag en in oorlogstoestande verower hy die Distinguished Service Order (DSO) en die koning ken ook postuum aan hom die Order of the British Empire (OBE) toe.[4]
In 1906 het hy die roman Old Fireproof geskryf, gevolg deur Vronina (1906) en Lone Tree Lode (1913).
Hy was 'n lid van die Legion of Frontiersmen.
In 1909 het Vaughan die "National Pageant of Wales" geskrewe, behou by Cardiff Castle. In 1911 het hy die "National Pageant" by die Investiture of the Prince of Wales in Carnarvon Castle geskrewe.[5]
Hy en sy vrou het vier kinders, Rhys (wat later na Kanada emigreer), Olwen, Nest en Emrys Llewellyn.
Sy vrou, wat later Catherine genoem word, is in 1927 in Penarth oorlede.
Arthur Owen Vaughan is op 15 Oktober 1919 in 'n hospitaal in Londen aan lewerkanker oorlede.[4]
Nalatenskap
[wysig | wysig bron]Na sy dood word 'n fonds gestig 'n gedenkteken vir sy graf te bou ter ere van sy Walliese patriotisme in die St Thomas-kerk, Rhyl, Flintshire. Hierdie fonds word georganiseer deur Edward James, Londen korrespondent van die Western Mail. Na omstredenheid wag hulle tot na die dood van sy weduwee en rig dan twee grafstene by sy graf in Rhyl, Flintshire op, een vir Kolonel Vaughan en een vir Owen Rhoscomyl.
Twee kopstene merk sy graf: 'n Imperial War Graves Commission kopsteen onder die naam, Lt Col A. O. Vaughan,[10] met die kenteken van die "King's Own Yorkshire Light Infantry" en 'n Keltiese kruis ter ere van sy prestasies vir die Walliesers[5] onder sy skuilnaam Owen Roscomyl.[5]
In Suid-Afrika
[wysig | wysig bron]Vaughan en sy vrou word in feitlik alle Afrikaanse literatuurgeskiedenisse genoem weens hulle boek Ou Hendrik se stories, wat een van die heel eerste Afrikaanse boeke is met dierbeelding. Dit is gebaseer op die vertellings van Ou Hendrik en sluit daarom ook aan by die inheemse volkskuns.
Die belang van Katherine Louisa en Arthur Owen Vaughan vir die Afrikaanse letterkunde is opgesluit in die boek Old Hendrik’s tales, wat in 1904 in Engels gepubliseer word onder die naam Arthur Owen Vaughan met illustrasies deur J.A. Shepherd. Hierdie is diereverhale uit die volkskuns, soos vermoedelik aan Katherine in Suid-Afrika vertel deur 'n inheemse inwoner (moontlik 'n Griekwa) met die naam Hendrik. Die stories verklaar onder meer hoekom bobbejaan se stert so krom is, hoekom skilpad nie hare het nie en hoekom jakkals 'n oorlogdans gedans het en ander mistieke dierverhale wat waarskynlik oor geslagte heen oorvertel is. Later is dit in Nederlands verwerk (waarskynlik deur Katherine Louisa), met Hendrik se woorde in Afrikaans soos hy dit oorspronklik oorvertel het en dit word gepubliseer onder die titel Ou Hendrik z’n stories. Hierdie is dus een van die vroegste voorbeelde van dierestories in Afrikaans, wat later deur skrywers soos G.R. von Wielligh, G.C. en S.B. Hobson en ander nagevolg sou word. Arthur skryf verskeie romans en twee geskiedenisse van Wallis en sy mense, Flame-bearers of Welsh history en die breër opgesette The matter of Wales. Hierdie boeke kry egter nie die stempel van goedkeuring van professionele historici nie.[2]
Publikasies
[wysig | wysig bron]
| Jaar | Titel | Notas |
|---|---|---|
| 1895 | The Jewel of Ynys Galon | |
| 1896 | Battlement and Tower | |
| 1897 | The White Rose of Arno | |
| 1898 | The Shrouded Face | |
| 1899 | Y Rhosin Du | |
| 1902 | The Lady of Castell March | |
| 1904 | Old Hendrik's Tales | mede-geskryf met sy vrou K. L. Vaughan |
| 1905 | Flame-Bearers of Welsh History | |
| 1906 | Old Fireproof | |
| 1907 | Dewi Saint, St. David | saam met eerw. J.E. Davies |
| 1907 | Sweet Rogues | |
| 1907 | Vronina | |
| 1908 | Ou Hendrik se Stories (Ou Hendrik z’n stories) | vertaal na Nederlands |
| 1908 | Isle Raven [11] | |
| 1908 | A Scout's Story | |
| 1912 | The children of Don | saam met lord Howard de Walden |
| 1913 | Lone tree lode | |
| 1913 | The Matter of Wales | |
| 1904-1909 | Numerous short stories |
Sien ook
[wysig | wysig bron]- K.L. en A.O. Vaughan (besig om met hierdie artikel te versmelt)
Bronnelys
[wysig | wysig bron]Boeke
[wysig | wysig bron]- Antonissen, Rob “Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede” Nasou Beperk Derde hersiene uitgawe Tweede druk 1964
- Beukes, Gerhard J. en Lategan, F.V. “Skrywers en rigtings” J.L. van Schaik Bpk. Pretoria Eerste uitgawe 1952
- Dekker, G. “Afrikaanse Literatuurgeskiedenis” Nasou Beperk Kaapstad Elfde druk 1970
- Kannemeyer, J.C. “Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1” Academica, Pretoria en Kaapstad Tweede druk 1984
- Nienaber, P.J.; Senekal, J.H en Bothma, T.C. “Mylpale in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde”Afrikaanse Pers-Boekhandel Tweede hersiene uitgawe 1963
- Nienaber, P.J. et al “Perspektief en Profiel” Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg Derde hersiene uitgawe1969
- Van Coller, H.P. (red.) “Perspektief en Profiel Deel I” J.L. van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe 1998
Internet
[wysig | wysig bron]- Rootsweb Ancestry: http://archiver.rootsweb.ancestry.com/th/read/CLWYD/2009-04/1239432619[dooie skakel]
- Rootsweb Ancestry: http://archiver.rootsweb.ancestry.com/th/read/DYFED/2009-04/1239639424[dooie skakel]
- Rootsweb Archiver: http://archiver.rootsweb.ancestry.com/th/read/GLAMORGAN/2006-03/1143555745[dooie skakel]
Verwysings
[wysig | wysig bron]- 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 "FEBRUARY 2016 newsletter - Cape Town - South African Military History Society". www.samilitaryhistory.org. Besoek op 24 Augustus 2017.
- 1 2 3 4 5 Dictionary of Welsh Biography: http://yba.llgc.org.uk/en/s-VAUG-OWE-1863.html
- ↑ The Welsh Academy Encyclopaedia of Wales. John Davies, Nigel Jenkins, Menna Baines and Peredur Lynch (2008) University of Wales Press p. 558 ISBN 978-0-7083-1953-6
- 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 Frontiersmen Historian: http://www.frontiersmenhistorian.info/motto.htm
- 1 2 3 4 5 6 A. L. von Zeil, Battle Scars and Dragon Tracks 2010 ISBN 978-0-620-46322-5
- ↑ "No. 27359". The London Gazette. 27 September 1901. p. 6330.
- ↑ Archive Network Wales
- ↑ "No. 31092". The London Gazette (Supplement). 31 Desember 1918. p. 17.31092]]
- ↑ Gwales: http://www.gwales.com/goto/biblio/en/9781848510357/
- ↑ Sjabloon:CWGC
- ↑ Buckingham, James Silk; Sterling, John; Maurice, Frederick Denison; Stebbing, Henry; Dilke, Charles Wentworth; Hervey, Thomas Kibble; Dixon, William Hepworth; MacColl, Norman; Rendall, Vernon Horace; Murry, John Middleton (28 Maart 1908). "Review: Isle Raven by Owen Vaughan". The Athenaeum (4196): 380.